2007/12/04

November 2

1824
Eerste Sinode in Kaapstad gevorm
In 1806 is die politieke bande tussen Nederland en die Kaap beëindig. Hierdie gebeurtenis het ‘n diepgaande invloed op die Kaapse Nederduits Gereformeerde Kerk uitgeoefen, want benewens die opleiding en verkryging van predikante uit Nederland, het die Kaapse Kerk onder die toesig vn die klassis van Amsterdam gestaan. Die angliseringsbeleid van die Britse owerheid het die posisie van die Kerk verder beïnvloed. Die toestand kon nie voortduur nie, en dit was met die oog op die beëindiging daarvan dat die drie leraars van die gemeente Kaapstad op 19 Junie 1824 by lord Charles Somerset, op grond van artikel 46 van J.A. de Mist se Kerkorde van 1804, aansoek gedoen het om “eene Synode bijeen te roepen van alle de Leeraars der Hollandsche Gereformeerde Kerk”. In hulle versoekskrif aan Somerset beklemtoon hulle die feit dat die Kerk voor die oorname van die Kaap onder die toesig van die Amsterdamse klassis gestaan het, maar sedertdien aan hulleself oorgelaat is. Toestemming is verleen, en op 2 November 1824 het die eerste Sinode vergader. Dit was ‘n byeenkoms van openbare belang, en die pers het dit omvattend met beriggewing gedek. Twaalf van die veertien gemeentes was teenwordig. Die oudsste leraar, ds. Meent Borcherds, toe reeds 40 jaar in sy amp, het die openingsrede gehou na aanleiding van Handelinge 26:22. Dit was ‘n keerpunt in die geskiedenis van die Kerk en volk. Die rede van die praeses, voorsitter of moderator, dui daarop. Hy het sy verkiesing aanvaar as “inboorling van dit land” en onderneem om die “beraadslagingen” te lei “belangens van de Gods Kerk in deze Volksplanting”. Een van die eerste take van die Sinode was om die Kerk behoorlik te organiseer en ondanks die feit dat selfs die kerklike bande met Nederland verbreek was, wou hulle hulle so nou moontlik aansluit by die wyse waarop die Kerk in Nederland georganiseer is. De Mist se Kerkorde, wat buite die Kerk opgestel is en nie getrou was aan skriftuurlike uitgangspunt nie, het die taak van die Sinode bemoeilik. Die Kerk sou hom egter nie van sy Gereformeerde kerkreg en die Kerkorde van Dordt (1618/19) laat vervreem nie. In sy onderlinge oorlegpleging het hy al meer en meer sy bestaansreg opgeëis, sy orde na die Skrif verantwoord en hom geïdentifiseer met die land en die lidmate wat hy bedien. ‘n Knellende staatsbeheer moes afgeskud word, ‘n selfbegrip aangewend word en ‘n bediening eie aan Suid-Afrika gekweek word.
1879
Genl. E.A. Conroy gebore
Edwin Alfred Conroy is op Hanover, Kaapland, gebore. Nadat hy hom in Desember 1900 by genl. Hertzog se troepemag aangesluit en ook gedien het in die lyfwag van pres. M.T. Steyn, word hy deur genl. C.R. de Wet as kommandant van die Kaapse rebellemag by Kakamas aangestel en later as veggeneraal. Na die vredesluiting vlug hy na Duits-Suid-Wes-Afrika en besoek ook Duitsland. In 1914 neem hy aan die Rebellie deel. In 1920 word hy vir die eerste keer tot lid van die Volksraad verkies, en hy sou in sy parlementêre loopbaan wat tot in 1943 strek, onwrikbare lojaliteit teenoor genl. Hertzog betoon. Hy is op 10 Februarie 1947 op Parys, OVS, oorlede.1911H.C.V. Leibbrandt oorledeHendrik Carel Vos Leibbrandt is op 31 Desember 1837 in Kaapstad gebore en na sy skoolopleiding bekwaam hy hom aan die Universiteit van Utrecht as predikant. Aan die begin van 1860 word hy predikant van Victoria-Wes. In hierdie jare ervaar die NG Kerk die aanslag van die liberalisme fel. Leibbrandt was een van hierdie vrysinnige leraars, en in sy eie gemeente lei sy beskouinge tot ‘n aanklag voor die ringsvergadering. Na ‘n lang uitgerekte stryd kom hy en die gemeente tot ‘n vergelyk: om ‘n skeuring in die plaaslike kerklike gemeenskap te voorkom, het die gemeente hom versoek om die bediening neer te lê en bied hul hom £2 500 ter vergoeding aan. Leibbrandt vertrek op 25 Junie 1877 na Graaff-Reinet waar hy predikant van die Unitariërs word. Vanweë sy belangstelling in die geskiedenis, word hy in 1881 argivaris en bebliotekaris van die Parlementsbiblioteek. In 1901 is die twee poste geskei en hy word die eerste vaste argiaris van die Kaapkolonie. Hy lewer werk van onskatbare waarde en versamel en publiseer argivale werke soos: Rambles throug the archives of the Colony of the Cape of Good Hope, 1688-1700 en Precis of the archives of the Cape of Good Hope, 1651-1653. Sy publikasie De Rebellie van 1815 is ‘n hoofbron van inligting oor die Slagtersnekstryd.

No comments: