2007/12/04

Oktober 18

1653
Abraham van Riebeeck gebore
Jan van Riebeeck se seun, Abraham, was die tweede blanke kindjie wat in die fort De Goede Hoop gebore is. Op sewearige ouderdom word hy en sy ouer broer, Lambertus, na Nederland gestuur waar hy hom in die regte bekwaam het. As VOC-amptenaar kom hy in 1677 in Batavia aan, waar hy hom deur sy bekwaamheid en ywer sodanig onderskei dat hy in 1708 die hoogste sport in diens van die VOC bereik, nl. Goewerneur-generaal van Oos-Indië. Volgens sy tydgenote was hy wel ter tale, onbesproke van karakter en beskeie, ‘n man met ‘n wakker gees en wye belangstelling. Hy is op 17 November 1713 in Batavia oorlede.
1685
Herroeping van die Edik van Nantes
Na ‘n reeks godsdiensoorloë in Frankryk in die 16de eeu het koning Hendrik IV in 1598 die Edik van Nantes uitgevaardig. Hiervolgens het die Franse Protestante, bekend as Hugenote, ‘n groot mate van geloofsvryheid verkry. Toe Lodewyk XIV in 1685 die edik herroep het, was daar vir diegene wat hulle protestantse geloofsoortuiging wou uitleef, nie meer plek in ‘n rooms-Katoliek georiënteeerde Frankryk nie. Al uitweg was om te vlug. Ofskoon talle doodgeskiet of gevang en in gevangenisskap geplaas is, het duisende ontvlug, ook na Nederland. Van daar het 150 Hugenote in 1688 in die Kaap aangekom. Hulle het aanvanklik probeer om hul identiteit te behou, maar het eindelik volkome opgegaan in die Hollandse gemeenskap aan die Kaap. Hoewel hulle klein in getal was, het hulle ‘n groot bydrae gelewer tot die vorming van die kultuur van die Afrikaner.
1687
Eerste kerkgebou op Stellenbosch ingewy
1888
E.B. Grosskopf gebore
1961
Eerste verkiesing in RSA
Op 5 Oktober 1960 het die volkstemming oor republiekwording plaasgevind. Die persentasie stemme uitgebring was 90,5. Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ‘n Republiek geword – buite die Britse Statebond. In Junie 1961 het die eerste republiekeinse Parlement geopen, maar die lede is in April 1958 onder premier Strijdom verkies. Die eed van trou deur Parlementslede uitgespreek, is nietemin voortaan teenoor die RSA en sy Staatspresident uitgespreek. In politieke kringe het verdere afskeidings en hergroeperings en grondwetlike voorstelle bekend geword. Die Senaat is in 1960 drasties verklein. Die gevolg was dat dr. Verwoerd as premier die nuwe politieke gesteldheid wou toets. Daarom het hy tot ‘n algemene verkiesing besluit – 18 maande voor die eintlike datum. Hy wou veral die rassefederasieplan van die Verenigde Party verwerp sien, omdat hierdie politieke samewerking tussen volksgroepe op politieke magsdeling neergekom het. Die getroue Afrikaner het dit as gevaarlik vir die republikeinse blanke toekoms besou. Die eerste algemene verkiesing in ‘n republikeinse bedeling het toe op 18 Oktober 1961 plaasgevind. Die Nasionale Party het 105 van die 160 setels verower. Vir die eerste keer sedert 1948 is twee Engelstaliges, t.w. A.E. Trollip en F. Waring, in die Kabinet opgeneem. Dr. H.F. Verwoerd, premier van die RSA, het dit beskou as ‘n simbool van die einde van die politieke verdeling volgens taalgrense wat deur die republiekwording – ‘n Afrikanerdroom – meegebring is.

No comments: