2007/12/04

Oktober 17

1882
Oom Pietie le Roux gebore
Petrus Jacobus le Roux, op Mooreesburg gebore, was vanaf 1911 vennoot in ‘n algemene handelsaak op Stellenbosch totdat hy in 1928 weens sy swak gesondheid moes aftree. In die jare 1929-30 het die vrouetak van die Nasionale Party op Stellenbosch gevra om n klein orkessie, om by die party se byeenkomste na te luister. Oom Pietie het voorgestel dat dit ‘n Boereorkes moet wees en het een op die been gebring. Die orkes het uit twaalf lede bestaan, en dit het in 1933 met groter getalle gegroei tot die Stellenbosch-Boerorkes (let op die spelling – Boerorkes) Hierdie orkes het in vakansies toere deur die land onderneem om fondse in te samel vir goeie sake, soos die Voortrekkermonument, Die Reddingsdaadbond, die Universiteit van Stellenbosch, ens. Tot 1956, met die laaste toer deur die Noordweste, is net oor die R100 000 bymekaar gemaak. Oud-Orkeslede het nog later by twee ander geleenthede ‘n orkes gevorm, nl. met die Uniefees van 1960 en die eeufees van die Universitet van Stellenbosch in 1966. Behalwe fondsinsameling, was die doel van die orkes om by die publiek waardering te skep vir ons eie Afrikaanse volksmusiek. So is daar gekonsentreer op outydse Boeremusiek, waarin konsertinaspel ‘n belangrike rol gespeel het, en op Afrikaanse volksliedjies. Hierdeur is voor groot gehore dwarsoor ons land ‘n nuwe begrip en geesdrif gebore vir ons eie musiek. Oom Pietie is op 29 Januarie 1980 oorlede.1890J.G. Mocke oorledeJohann Godfried Mocke is op Kersfees 1806 gebore, en hierdie Graaff-Reinetter, eers onderwyser en boer, sou uiteindelik Trekker word. In Natal misluk hy as hy as ‘n vurige republikein Transgariep by Natalia ingelyf probeer kry. ‘n Eensydige onafhanklikheids-verklaring misluk, waarna hy tevergeefs help om die Britse anneksasie van Natal in 1843 te keer. Hy bots in 1845 met die Britse magte by Swartkoppies oor die Griekwas en is een van Andries Pretorius se kommandante by Boomplaas (1848), maar verhuis daarna na Ohrigstad-distrik, waar hy hom tot sy dood stil op die boerdery toelê.
1907
G.J. (Gerrie) van Zyl gebore
Gerrie van Zyl het as besturende direkteur van Federale Nywerhede ‘n pioniersaandeel gehad in die ontginning van die visbedryf in Suid-Afrika en het, met die totstandkoming van Marine Products, ‘n filiaal van FVB, verseker dat Afrikanerbelange in hierdie bedryf baie jare lank reeds hoë aansien geniet. Die welslae en dividende wat geput is uit hierdie belegging in die rykdomme van die see langs ons kuste, het die FVB-groep gehelp om in die moeilike beginjare vinnig uit te brei en reserwes op te bou.
1911
Pres Steyn deur Louis Botha genooi na byeenkoms om uniale politieke party te stig
Dit was verbasend hoe gereeld pres. M.T. Steyn deur verskillende politieke partye en kultuurgroepe genader is om sedert 1902 en ook na 1910 leiding te gee. Toe premier L. Botha ‘n uniale politiek party wou stig, het hy eweneens vir Steyn gevra om teenwoordig te wees, raad te gee en in elke geval vooraf vir Botha met wenke te help. Hy gaan voort om te skryf dat die land se omstandighede so moeilik is as wat dit nog nooit vroeër was nie. Hy het dit veral ook daarop gebaseer dat daar onder goeie vriende en by goeie patriotte nog ‘n te sterk provinsialistiese gevoel bestaan het. Hy sien dit as die grootste moeilikheid waarteen hy stuit, maar deur billik te regeer en die algemene belange voor oë te hou, sou hy hierdie gesindheid te bowe kom.
1948
Suid-Afrikaners neem deel aan die Berlynse lugbrug
Op 24 Junie 1848 het Rusland alle verbindingsweë na Wes-Berlyn gesluit in ‘n poging om die Westerse moondhede te dwing om hulle aan die stad te onttrek. As gevolg van die sluiting van die verbindingsweë is die toevoer van voedsel en brandstofvoorrade na 2,3 miljoen Duitsers afgesny. Om ‘n gereelde toevoer van hierdie voorrade te verseker, het die VSA en Brittanje onmiddellik ‘n lugbrug ingestel. Toe Brittanje sy dominiums in Augustus 1948 in die verband om hulp nader, het Suid-Afrika 31 vlieëniers na Brittanje gestuur. Op 17 Oktober 1948 het hulle met behulp van Britse Dakotavliegtuie hul eerste voorrade voedsel en brandstof in Wes-Berlyn afgelewer – iets wat hulle die volgende sewe maande, totdat die blokkade opgehef is, gedoen het. Met hierdie optrede het die Nasionale Regering, wat pas aan die bewind gekom het, sy bereidwilligheid getoon om met die Weste saam te werk, o.m. in sy bestryding van Russiese Imperialisme.

No comments: