2007/12/04

Oktober 16

1836
Slag by Vegkop
Die botsing by Vegkop, naby Heilbron, het byna die Groot Trek in sy verdere ontplooiing gestuit. Anderies Hendrik Potgieter se trekgeselskap het in Junie 1836 oor die wye landstreek net duskant die Vaalrivier versprei gestaan. Op Potgieter se besoek aan die Soutpansberg het sommige trekkers tot oorkant die Vaalrivier beweeg. Silkaats (Mzilikazi), opperhoof van die Matebele, was bang vir ‘n gewapende aanval uit die suide en het ‘n impie uitgestuur om van die Voortrekkers, onder meer die Liebenbergs en ‘n jaggeselskap onder leiding van Erasmus, aan te val en uit te moor. Toe Potgieter by sy mense terugkom het hy beveel dat een laer getrek word. Vyftig waens is by Vegkop tussen Renoster- en Wilgerivier (tussen die huidige Lindley en Heilbron) in ‘n kring getrek en doring bosse is tussen die waens gepak. Ongeveer 5 000 Matebeles het op 16 Oktober 1836, onder aanvoering van Kalipi, die neerlaag gely teen 40 weerbare mans en seuns waarskynlik onder leiding van Sarel Cellliers. Twee Voortrekkers is gedood en 14 gewond, terwyl ongeveer 430 Matebeles gedood is. Vyftigduisend skape, vyfduisend beeste en honderde perde is egter weggevoer. Met behulp van osse wat Moroka, opperhoof van die Barolong, en eerw. James Archbell aan hulle gestuur het, het hulle na Thaba Nchu teruggekeer. In Januarie 1837 het Hendrik Potgieter en Maritz ‘n suksesvolle strafveldtog teen Silkaats be Mosega afgerond met die verhaling van die veeverliese. In 1858 het die Vrystaters ook by Vegkop teen die Basoeto gewen en in 1883 is ‘n monument daar opgerig.
1840
Vereniging van die Potchefstroom-Winburg en die Natalse republiek
Die Staatkundige oogmerk van die Groot Trek was om iewers buite die toenmalige Kaapkolonie ‘n verenigde Voortrekkerstaat in die lewe te roep. Deurgaans is aan ‘n enkele staat gedink, en daarom is ooreengekom dat Trekkergroepe ten noorde van die Oranjerivier bymekaar sou kom waar dan oor die toekoms besluit sou word. Toe Potgieter en Maritz kort na mekaar in 1836 in die omgewing van Winburg aankom, is die eerste Voortrekkerbestuur op 2 Desember 1836 ingestel – op ‘n tydstip toe oor die eindbestemming van die trek nog geen duidelikheid bestaan het nie. Toe Retief hom in April 1837, en kort daarna ook Uys en sy mense, hulle by die Trekkers aangesluit het, het die kwessie van ‘n eindbestemming belangrik geword, en daaroor was daar geen eenstemmigheid nie. Potgieter, wat ‘n afspraak met Tregardt gehad het, wou Transvaal toe omdat hy afkerig was van Natal wat na sy oordeel te vatbaar was vir beïnvloeding deur die Engelse, Retief, ondersteun deur Maritz en Uys, wou na Natal om by ‘n hawe te wees. Veral ook omdat die Engelse na hulle oordeel nie ‘n bedreiging ingehou het nie. Daarnaas het ‘n derde groep Trekkers in Winburg agtergebly. Van die eenheidstrewe het dus nie veel tereg gekom nie, en elke groep het sy eie bestuursreëlings getref. In Natal aangekom, het die Trekkers op die voetspoor van die Winburgse Burgerraad en die Vetrivierse grondwet, hulle bestuur gereorganiseer in ‘n “Raad van Representanten” of gewoonweg ‘n Volksraad bestaande uit 24 lede en daarbenewens “Regulatien en Instructien” opgestel, wat as ‘n eerste soort grondwet in Natal beskou kan word en derhalwe tweede in die voortrekkergeskiedenis. In die Oor-Vaalse het Potgieter enigsins patriargaal te werk gegaan, sy krygraad uitgebou tot wat bekend geword het as die “Raad van Hendrik Potgieter”, maar wat dan tog op die lees van die Burgerraad van 2 Desember 1836 geskoei was. Ten spyte van die afstand wat die Trekkergroepe van mekaar geskei het, het daar tog ‘n drang tot groter eenheid bestaan. Hieraan het die Natalse Volksraad aan die end van 1839 uitdrukkig gegee toe Potgieter uitgenooi is om hom aan te sluit by die Natalse “Maatschappy”. In September 1840 het Potgieter hierop gereageer toe hy laat blyk het dat hy nie ongeneë is om met Natal te verenig nie. Hierop is kmdt.-genl. Andries Pretorius na Transvaal gestuur om verder oor die saak met Potgieter te onderhandel, wat daartoe gelei het dat ‘n eenwording van die hele Trekkergemeenskap op 16 Oktober 1840 aan die Mooirivier in beginsel bewerkstellilg is. Die verenigde Voortrekkersstaat sou deur ‘n Volksraad met setel te Pietermaritzburg geregeer word. Die Transvaalse Trekkers kon twaalf lede vir die Volksraad kies, van wie telkens minstens drie die Raadsvergaderings in Pietermaritzburg moes bywoon. Die reëling van 1840, waarin die eenheidsdrang van die Voortrekkers uitdrukking gevind het, was van korte duur. Die lang afstand, swak verkeersweë en langsame vervoermiddele sowel as die Transvalers se vrees dat Natal vroeër of later deur die Engelse ingepalm kan word, was daarvoor verantwoordelik dat die eenheid nooit ‘n werklike konkrete gestalte aangeneem het nie.
1920
Gert van den Bergh word gebore
Op hierdie dag sien een van die talentvolste Afrikaanse toneelspelers, Gert van den Bergh, op Krugersdorp die eerste lewenslig. Onder leiding van Anna Neething-Pohl, kry hy sy beslag as toneelspeler. Hy word lid van die eerste Afrikaanse geselskap van die Nasionale toneelorganisasie, wat in 1948 die land vir die eerste keer, as staatsondersteunde toneelgeselskap deurreis. Later, vestig hy hom in Johannesburg en begewe hy hom in die radio en die ontwakende rolprentwese. Hy was die eerste Afrikaanssprekende vryskutprogramaanbieder, en het spoedig ‘n gedugte mededinger vir sy Engelse kollegas op die handelsradio geword. Ook in die filmbedryf het hy ‘n gesogte akteur geword – ‘n afrikaanssprekende akteur wat erken en aanvaar is as filmakteur van wêreldformaat. In 1965 vereer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met sy besondere Erepening vir Toneel-, Film- en Radiokuns. Hy is op 16 Februarie 1968 oorlede.

No comments: