2007/12/04

Oktober 14

1818
M.J. Oosthuizen gebore
Marthinus Jacobus Oosthuizen (Oosthuyse), Voortrekkerheld, is op Olifantshoek aan die Boesmansrivier, distrik Uitenhage, gebore. In April 1837 het hy as seun van die Voortrekker Marthinus Oosthuizen, met Pieter Retief na Natal geëmigreer en by Doornkop, naby Chieveley, uitgespan. Marthinus Oosthuizen sr. is saam met Retief en ander onderhandelaars na Dingaan en is op 6 Februarie 1838 by Mgungundlovu vermoor. Toe die zoeloes hierna die Voortrekkerlaers aan die Moordspruit, Bloukransrivier en Rensburgspruit in die nag van 17 Februarie 1838 aanval, het die 19-jarige Marthinus hom na die toneel gehaas. Ongeveer agt tot tien van Van Rensburg- en Bothma-families (onder wie slegs 14 weerbare mans) was op ‘n heuwel vasgekeer en omsingel deur ‘n Zoeloe-regiment. Toe Marthinus die groep nader, het Johannes van Rensburg volgens oorlewering sy geweer onderstebo aan die seun getoon, wat begryp het dat hulle voorraad ammunisie uitgeput was. Marthinus het al vegtend teruggeval en ammunisie gaan haal by die wa van ‘n Pretorius-familie ongeveer 1,6km daarvandaan. Gesteun deur Abraham de Beer en Jacob Naude, het hy sy pad terug oopgeveg na die vasgekeerde Voortrekkers, waar hy die kosbare vrag afgelewer het. Sy tydige hulp het hulle lewe gered. Later het nog Voortrekkers onder Sarel Cilliers opgedaag en is die aanvallers verdryf. Na sy huwelik het hy hom in Natal gevestig. Hy is op 2 April 1879 in die distrik Estcourt, op die plaas Enon, oorlede.
1881
Dr. A.N.E. Changuion oorlede
Antoine Nicolas Ernest Changuion is op 15 Desember 1803 in Den Haag, Nederland, gebore. Hierdie afstammeling van die Hugenote was ‘n bedrewe joernalis, ‘n voortreflike onderwyser, ‘n besielende spreker en ‘n begaafde skrywer. Hy het in 1831 ‘n betrekking aan die South African College in Kaapstad aanvaar en in 1842 sy eie skool gestig. In tydskrifte soos Het Nederduitsch Suid-Africaansch Tijdschrift en De Zuid-Afrikaan het belangwekkende atikels van hom verskyn. Een van sy belangrikste publikasies, De Nederduitsch Taal in Zuid-Afrika hersteld (1844), is vir die Afrikaanse taalkundige van besondere betekenis, omdat dit ‘n waardevolle bylae bevat: Proeve van een Kaapsch Taaleigen. In 1865 is hy en sy gesin terug na Europa. Hy is in Lörrach, Baden, Duitsland, oorlede.
1897
Dr. Ryno Verster (Dr. Goedhart) gebore
Ryno Stockenström Verster is op Bethlehem gebore. Hy het ‘n aantal mediese publikasies die lig laat sien, waaronder die eerste Afrikaanse handboek vir kraamverpleegsters. Sy aansienlike gewildheid het hy egter te danke aan sy gewilde werke soos: Wat elke dogter moet weet (1951) en Dr. Goedhart kyk terug (1964) – en veral die gereelde rubriek wat hy as dr. Goedhart in Die Volksblad en ander blaaie behartig het.

No comments: