2007/12/04

Oktober 13

1867
Eerste diamant in Suid-Afrika gevind
Die kinders van die Jacobs-familie van die plaas De Kalk in die omgewing van die latere Hopetown, het met ‘n eienaardige klippie gespeel toe ‘n boer, Schalk van Niekerk, dit opmerk en vermoed het dat dit ‘n diamant is. ‘n Verbygaande handelaar, John O’Reilly, het dit ondersoek waarna dit geblyk het ‘n diamant te wees – die eerste diamant (21¼ karaat) wat in S.A. gevind is. Verdere ontdekkings het tot ‘n algehele ekonomiese omwenteling in Suid-Afrika aaneiding gegee. Die diamantdraende gebied het die westelike deel van die Vrystaatse Republiek uitgemaak, maar sir Henry Barkly, die Britse Goewerneur en Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, het dit as deel van die Kaapkolonie opgeëis. Diamantontdekkings in die westelike deel van die ZAR het die Britse anneksasielus verder aangewakker. Onbeholpe onderhandeling van die kant van die Transvaalse pres. M.W. Pretorius het daartoe gelei dat die arbitrasie-uitspraak van goeweneur Keate van Natal in Oktober 1871 ten gunste van die stamhoofde, wat die Britse owerheid goedgesind was, Transvaal hulle diamantvelde ontneem het. Enkele dae na die Keate-uitspraak het Barkley ook die Vrystaatse diamantvelde, ondanks besware van pres. J.H. Brand, geannekseer. Weens die onwilligheid van die Kaapse Parlement, is die gebied vir eers direk deur Brittanje geadministreer. Die ontdekking van diamante het die mynbou-bedryf in Suid-Afrika aan die gang gesit. Buitelandse kapitaal het die land ingestroom en groot maatskappye het tot stand gekom om die rykdom te ontgin. Naas die ekonomiese ontwikkeling het dit ‘n nuwe soort gemeenskap geskep waar avontuurlus, materialisme en maatskaplike probleme oorheers het. Die grootskaalse sametrekking van verskillende kultuur- en rassegroepe op die diamantvelde by Kimberley het ontwrigtend op die onderlinge verhoudinge ingewerk. Die gevestigde Afrikanerbevolking wat ‘n rustige plattelandse bestaan gevoer het, het vreemd teenoor hierdie ontwikkeling gestaan, en vir sover hulle nie as eenvoudge delwers en werknemers daarby betrokke geraak het nie, het hulle hulle aan die diamantbedryf onttrek.
1880
Op hierdie dag verklaar die Boere Republiek van die Transvaal sy onafhanklikheid van Britanje
1899
Slag by Kraaipan
Met die uitbreek van die Engelse Oorlog, was daar reeds ‘n Britse troepemag op Mafeking gestasioneer. Ten einde hierdie mag te isoleer en uit te wis, het genl. J.H. de la Rey kort nadat die berig aangaande die oorlogsverklaring genl. P.A. Cronje op 11 Oktober by Polfontein, aan die Transvaalse wesgrens bereik het, met ‘n kommando die Betsjoeanalandse grens oorgesteek om die spoorwegverginding tussen Mafeking en Kimberley af te sny. Op 12 Oktober het hierdie kommando die spoorlyn by Kraaipan, aan die hoofspoorlyn tussen Mafeking en Vryburg, gesabboteer. Hierdie optrede van die Boere het die ontsporing van ‘n gepantserde lokomotief, wat ‘n gepantserde trein begelei het tot die gevolg gehad. Die geveg wat hierna tusssen Boer en Brit by Kraaipan ontstaan het, was die eerste van die Engelse Oorlog. Toe dit lig word op 13 Oktober 1899, is met ‘n kanon uit genl. De la Rey se kommando op die trein gevuur. Met die derde skoot het die koeël die lokomotief se stoomketel beskadig, sodat die Britse soldate na ‘n kort geveg hulle aan die Boere oorgegee het. Benewens etlike gevangenes, het die Boere die trein met sy vrag kanonne en talle dum-dum koeëls buitgemaak. So het die eerste geveg van die Engelse Oorlog in ‘n oorwinning vir die Boere geëindig.
1899
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog begin die beleg van Mafikeng by die dorp Mafeking.

No comments: