2008/09/04

4 September 1939 : Suid-Afrika verklaar oorlog teen Duitsland


Net soos dit met die Eerste Wêreldoorlog die geval was, het die Tweede Wêreldoorlog wat op 1 September 1939 uitgebreek het, om die handhawing van die beginsel van die magsewewig gegaan. Onder leiding van Adolf Hitler het Duitsland weer so in sterkte toegeneem dat hy die magsewewig in Europa aangetas het. Nadat Duitsland op 23 Augustus 1939 ‘n nie-aanvalsverdrag met Rusland gesluit het, het hy ‘n week later Pole binnegeval.

Op 3 September het Brittanje en Frankryk oorlog teen Duitsland verklaar. Amerika sou voorlopig neutraal bly, terwyl Japan reeds in ‘n oorlog teen China verkeer het. Ook Italië het aanvanklik neutraal gebly. Die eerste helfte van die oorlog is gekenmerk deur groot Duitse oorwinnings. Naas Pole, is ook Denemarke, Noorweë, Nederland en België deur die Duitse magte binnegeval. Frankryk is in ‘n veldtog van slegs ses weke tot kapitulasie gedwing.

Danksy die beskerming wat die see aan hom verleen het, kon Brittanje die stryd egter voortsit. Die blokkade wat die Britse vloot op Duitsland toegepas het en die feit dat die Britse Lugmag nie verslaan kon word nie, het veroorsaak dat Hitler besluit het om Rusland op 22 Junie 1941 binne te val, ten einde hom van die Russiese hulpbronne meester te maak. Die Duitsers kon egter nie daarin slaag om die Russe te vernietig nie.

Op 7 Desember het Japanse strydkragte ‘n onverwagte aanval op die Amerikaanse vlootbasis by Pearl Harbour gedoen. Die strydtoneel is daardeur grootliks uitgebrei. Na slegs ses maande kon die Amerikaners egter begin om die Japanners terug te dryf. Aan die einde van 1942 kon die Amerikaners, die Britte en die Russe aan al die fronte tot die offensief oorgaan.

Die een oorwinning na die ander is behaal, en so is Duitsland op 7 Mei 1945 en Japan op 2 September tot oorgawe gedwing. Suid-Afrika het volgens ‘n besluit van die Volksraad op 4 September 1939 ook tot die oorlog onder leiding van genl. J.C. Smuts toegetree. Dit was teen die sin en wil van die meerderheid van die Afrikaners.

Die Nasionale Party het dwarsdeur die oorlog slegs van konstitusionele middele gebruik gemaak om genl. Smuts in sy beleid teen te gaan. Dit het egter nie verhinder dat ‘n nuwe organisasie, die Ossewabrandwag, ontstaan het nie. Hierdie organisasie het ‘n vorm van diktatuur voorgestaan. Dit het daartoe gelei dat enige honderde Afrikaners geïnterneer is. Dit is ook gedoen met lede van die Verdedigingsmag en die Polisiemag wat nie bereid was om aan die oorlog deel te neem nie.

Onder die voorstanders van die oorlog is weer ‘n organisasie in die lewe geroep met die naam Waarheidsridders. Hierdie organisasie was ook daarvoor verantwoordelik dat heelwat Afrikaners geïnterneer is. Aka fak GDS

No comments: