2008/09/15

15 September 1914 : Genl. J.H. de la Rey doodgeskiet


Op die dag reis genl. Jacobus Hercules (Koos) de la Rey en genl. C.F. Beyers per motor na Potchefstroom. Hulle was op pad na Kemp, bevelvoerder van die militêre kamp daar, wat gereed was om teen die Regering op te tree uit weerstand teen die Botha-regering se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog. Genl. De la Rey sou egter nooit sy bestemming bereik nie. Die polisie het die hele Witwatersrand op soek na ene William Foster en sy berugte moordbende gefynkam. Die twee generaals word in Langlaagte, net wes van die Middestad van Johannesburg, deur die polisie gedaag. Hulle ry egter voort en die polisie skiet na die motor – ‘n skoot tref genl. De La Rey noodlottig in sy rug.

Vyf dae later is hy op Lichtenburg begrawe. Een van sy grootste oorlogs kamerade in die Engelse Oorlog, genl. C.R. de Wet, op wie genl.. De la Rey se tragiese dood diepe indruk gemaak het, het op die begrafnis gesê dat De la Rey “een van die dapperste van die dapperes, een van die getrouste onder die getroues” was Genl. De la Rey se onwrikbare Godsvertroue, vaderlandsliefde en geloof aan die volkswil het ‘n onuitwisbare stempel op die Afrikaner se vryheidstrewe gelaat.

Hy is op 22 Oktober 1847 op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg gebore. Ondanks weinig formele onderwys was hy besonder skrander en bekwaam. Sy militêre leiers eienskappe het al op 19-jarige leeftyd in die Basoeto-oorlog van 1865 na vore gekom en in die Engelse Oorlog tot volheid ontplooi. Met die uitbreek van die oorlog het kmdt.-genl. Joubert hom aangestel as veggeneraal onder bevel van en ook as raadgewer vir genl.. P.A. Cronje in Wes-Transvaal.

Hy was ‘n uitmuntende strateeg, wat soms met genl.. Cronje verskil het. Sy grootste vegprestasie is dat hy die hele oorlog onoorwonne deurgeveg het as ruiter-generaal wat in die besonder welslae behaal het met sy beroemde stormjaagtaktiek. Die Leeu van Wes-Transvaal” soos hy bekend geword het, het as onoorwonnene deel gehad aan die vredesonderhandelinge en –ondertekening in 1902.

In 1908 was hy lid van die Transvaalse afvaardiging in die Nasionale Konvensie, wat die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gebring het. Hy was ook lid van die eerste Senaat. Genl. De la Rey het republikein gebly, en dit het hom in stryd met die regering gebring toe die besluit het om aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem. Hy was van mening dat die oorlog die kans gebied het om die verlore republikeinse vryheid en onafhanklikheid vir Suid-Afrika te herwin. FAK

2 comments:

Nikita said...

Nog 'n possie vir een van my links! :) Dankie!

RoosMaryn said...

:) Hi Nikita, geniet dit hoor!