2008/09/11

11 September 1964 : Junior Rapportryersbeweging gestig


Die ontstaan van die Beweging is te danke aan wyle Hennie Roux, wat die rapportryer gedagte na die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 wou laat voortleef in sosiale klubs of korpse. In 1959 is in Pretoria die eerste Junior Rapportryerskorps gestig. Dit was egter eers op 11 September 1964 dat die Federasie van Junior Rapportryerskorpse tot stand gekom het. Deur die jare is stelselmatig wegbeweeg van die outonomie van korpse, en in 1978 het die federale karakter plek gemaak vir ‘n lede organisasie. Die doelstellings van die Junior Rapportryersbeweging kan as volg saamgevat word: Die handhawing, uitlewing en bevordering van die Afrikaanse kultuur; die bevordering van nadere kennismaking onder jong Afrikaners en ‘n samehorigheidsgevoel onder alle Afrikaners. Aangesien die Junior Rapportryersbeweging ‘n kulturele diensorganisasie is, word diens oor ‘n breë terrein gelewer, onder meer die reël van volksfeeste, fondsinsamelings veldtogte vir verdienstelike sake, ‘n debatkompetisie, jeugleier kursusse en kleuterkuns uitstallings. Lidmaatskap van die Beweging word op uitnodiging verleen aan alle blanke Afrikaanssprekende mans in die ouderdomsgroep 18 tot 35 jaar, wat die Grondwet van die Beweging onderskryf en hulle daarmee vereenselwig. FAK

No comments: