2008/08/25

25 Augustus 1894 : Hayden Matthews gebore


Hierdie Walliese musikant het in 1920 na SA gekom en onder die skuilnaam “Johannes Joubert” alombekend geraak as die komponis van O Boereplaas, Dis Al en ander Afrikaanse liedere. Hy is op 14 Augustus 1958 in Johannesburg oorlede. aka fak ACH


http://www.ee.sun.ac.za/~lochner/blerkas/musiek/314.mid
DIS AL

Woorde: JAN F.E. CELLIERS
Musiek: JOHANNES JOUBERT

Dis die blond, dis die blou;
dis die veld, dis die lug;
en 'n voël draai bowe
in eensame vlug--dis al.

Dis 'n balling gekom
oor die oseaan,
dis 'n graf in die gras,
dis 'n vallende traan--dis al.

Dis die blond, dis die blou;
dis die veld, dis die lug;
en 'n voël draai bowe
in eensame vlug--dis al.



http://www.ee.sun.ac.za/~lochner/blerkas/musiek/343.mid
O, BOEREPLAAS

Woorde: C.F. VISSER
Musiek: JOHANNES JOUBERT; verwerk: ARTHUR ELLIS

O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.

O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.

O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.

3 comments:

Nikita said...

Dankie vir hierdie een wat my weer laat verlang het! Ek gaan hom opsit by my inskrywing oor 14 Augustus-Afrikaanse inskrywing as jy nie omgee nie!

RoosMaryn said...

Nikita..bespeur ek soms 'n tikkie heimwee? ;)

Muriel said...

Hierdie gedig sal altyd en verewig een van my gunstelinge bly! Roosmaryn Nikita het verseker heimwee!

Dis tyd om te kom kuier Nikita :-)

Roosmaryn ek kuier vandag orals op jou blog rond! Dis nou die lekker van blog vakansie, mens kry tyd om jou gunsteling blogs deur te lees. hehe

Baie geluk met jou toekenning, jy verdien dit!