2008/08/15

15 Augustus 1888 : Dr. M.S. (Tinie) Louw gebore


As nederige, eerlike en opregte mens het Marthinus Smuts Louw ‘n ontsaglike aandeel gehad in die uitbouing en opheffing van die Afrikaner op verskeie terreine, sodat sy persoonlike mylpale monumente geword het in die volksgeskiedenis van Suid-Afrika. Tinie Louw is as pastorie seun op Ladismith, Kaap, gebore. Hy beskik oor ‘n besondere intellek, en in 1907 behaal hy sy graad BA (Hons) met Fisika as hoofvak aan die Universiteit van Stellenbosch. In sy studentejare toon hy ‘n intense belangstelling in die toekoms van die Afrikaner en die Afrikaanse taal, en op die jeugdige ouderdom van twintig jaar is Tinie Louw ‘n vurige kampvegter vir die Afrikaanse taal en Afrikaner regte. Hy tree as spreker op by talle taalkongresse, waar hy hom beywer om Afrikaans in die ereplek as die taal van die Afrikaner te help vestig. Met dr. Louw se toetrede tot die sakewêreld in 1918, het hy hom steeds beywer vir Afrikaanse taalregte; hierdie keer met ‘n ietwat ander dimensie, naamlik om Afrikaans ook in die sakewêreld sy regmatige aandeel te laat geniet. As een van die stigterslede van die Ekonomiese Instituut van die FAK en later ook as lid van die Dagbestuur, beywer dr. Louw hom om die Afrikaner-idealisme ook by die Afrikaner-sakeman te laat ingang vind, en in die verband was hy een van die voorste stryders van die regte van Afrikaanse sake-ondernemings. Op sy voorstel is vroeg in 1940 die eerste konferensie vir verteenwoordigers van Afrikaanse sake-ondernemings gehou. Nadat hy verkies word as voorsitter van die Ekonomiese Instituut in 1943, en veral na sy aanstelling as president van die AHI, ‘n organisasie in wie se totstandkoming hy ‘n leidende aandeel gehad het, en wat vandag die invloedryke en gerespekteerde spreekbuis van die georganiseerde Afrikaanse sakeondernemings, is, lewer dr. Louw sy grootste bydrae om die Afrikaanse sake, net soos die Afrikaanse taal, tot selfstandigwording te lei. In sy lang sakeloopbaan het hy verbintenisse met verskeie groot Afrikanerorganisasies gehad, van sommige waarvan hy voorsitter was en van ander waarin hy gedien het as direkteur – dink in die verband aan Sanlam, Bonuskor, NOK, Sasol, Saambou-(Permanente) Bouvereniging en vele ander. Sy aandeel in die ekonomiese bewuswording van die Afrikaner, laat in die dertigerjare, dien vandag nog as inspirasie vir ‘n Afrikaner sakegemeenskap, wat nie slegs met trots sy aandeel in die ekonomie handhaaf nie, maar steeds doelgerig daarin slaag om hierdie aandeel verder uit te bou. In 1965 is hy die eerste ontvanger van die H.F. Verwoerd prys en in 1977 word die FAK se goue Erepenning vir Volksdiens aan hom toegeken. Dr. Louw is op 1 Maart 1979 oorlede. aka fak H.A. Sloet

No comments: