2008/07/23

23 Julie 1885 : J.F. van Wyk gebore


Johannes Frederikus van Wyk is op die plaas Leeuwfontein, in die distrik Wolmaransstad, gebore en ontvang sy skoolopleiding daar. Op 14-jarige ouderdom lê hy sy eindeksamen af en in dieselfde jaar (1899) breek die ABO uit.

As 15-jarige penkop sluit hy hom by die Boeremagte aan, neem aan minstens agt veldslae deel, word ‘n maand voor die vredesluiting by Roodewal gevang en na Indië gestuur, waar hy sy naskoolse studie voortsit.

Na sy terugkeer in 1903 sit hy sy studies veral in Engels en Geskiedenis voort en bekwaam hom as onderwyser aan die Pretoriase Normaalkollege.

In 1919 is hy na Arusha, in Oos-Afrika, as die eerste Afrikaanssprekende onderwyser, wie se ywer vir die sosio-kulturele en akademiese opheffing van die Afrikanerkind nooit geëwenaar is nie.

Meer as 15 jaar gee hy gratis onderwys en bou hy skole – dikwels in ongunstige en vernederende omstandighede. Later was hy in diens van die grondboontjie maatskappy in Tanzanië, en daarna het hy verskeie goud konsessies gehou.

In 1963 het hy en sy eggenote, agterkleinkind van Louis Trichardt, na Suid-Afrika teruggekeer. Sy herinneringe aan die ABO is gepubliseer in Die Mauser Knal, waarin hy ‘n lewendige voorstelling gee van die kommandolewe en krygsgevangeneskap.
Prof. dr. P.G. Nel

No comments: