2008/07/10

10 Julie 1509 : Johannes Calvyn (Jean Cauvin) gebore




Johannes Calvyn is in Noyon, Frankryk gebore. Hy studeer vanaf 1525 teologie in Parys, maar word in 1528 regstudent in Orleans en later in Bourges, waar hy onder invloed van die Protestantisme en Franse Humanisme kom. In 1533, deur die lees van Luther, word hy Protestant en sien sy roeping om die kerk te hervorm na die suiwer Bybelse model.

Deur godsdiensvervolging vlug hy in 1535 na Basel. Daar verskyn in 1536 die eerste uitgawe van sy groot leerboek, wat vandag nog as handboek in Dogmatiek in Suid-Afrika gebruik word, sy Institusie. In dieselfde jaar word Calvyn se voorneme om sy lewe in stilte aan studie te wy egter verbreek toe Farel hom oorhaal om vanuit Geneve die Kerkhervorming te organiseer.

Toe ander stede soos Bern nie sy streng reëlings wil aanvaar nie, word Calvyn-hulle uit Genève verban. Hy word toe predikant van die Franse gemeente in Straatsburg. Gedurende hierdie verblyf sluit hy die belangrike vriendskappe met manne soos Bucer en die groot Lutherse kerkhervormer, Melanchton; ook verskyn die tweede uitgawe van sy Institusie, sy kommentaar oor die Brief aan die Romeine en sy beroemde en belangrike brief aan Sadoleto.

In 1541 keer hy terug na Genève, waar hy op bekwame maar strenge wyse ‘n teokrasie begin, dit wil sê, waar hy probeer om die hele persoonlike en openbare lewe te vorm om gehoorsaam te wees aan Gods Woord. Die regering van die kerk is in die hande van die volgende ampsdraers: die herders, die hoogleraars, die ouderlinge en die diakens wat deur ‘n “konsistorie” van ampsdraers en lidmate bygestaan word, veral wat die bewaking van sedes betref. Intussen gee Calvyn ook leiding in verband met die vestiging, leer en organisasie van die Kerkhervorming in Engeland, Skotland, dele van Duitsland, Pole, Hongarye en Nederland, waarvandaan sy invloed ook na Suid-Afrika toe oorkom.

Gedurende hierdie tyd tot met sy dood op 27 Mei 1564 in Genève, skryf Calvyn ook sy beroemde kommentare oor byna al die Bybelboeke. Vanaf 1555 is Calvyn die onbetwiste leier in Genève, en in 1559 verskyn die laaste uitgawe van sy Institusie en stig hy die beroemde Akademie van Genève, waarin ‘n hele aantal teoloë en kerkleiers hulle opleiding ontvang. Hierdeur, maar ook deur sy publikasies en talle briewe aan leiers in talle lande, oefen hierdie groot teoloog, kerkleier en opvoedkundige wêreldwye invloed uit.

Sy invloed as teoloog (ook deur sy leerlinge) op die drie Afrikaanse Susterskerke se drie Belydenisskrifte (die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls), op hulle stelsels van kerkregering, op die manier waarop hulle hulle erediens inrig, op die patroon en melodieë van hulle kerksang, op die vorm en inhoud van hulle preke, op hulle gebede en formuliere gee aan al hierdie fasette van ons kerklike lewe in Suid-Afrika ‘n onmiskenbare Calvinistiese stempel.

In byna elke kerklike handeling, soos in ons erediens, huisbesoek, huisgodsdiens, kerkraadsvergadering, ensovoorts, sit daar iets van Calvyn wat weer eens God se Woord ontdek het as die enigste norm vir ons geloof en lewe, en wat van hierdie alle lewens uitinge wou inrig tot eer van die soewereine God. Hierdeur het Calvyn ook die Afrikaner se denke beïnvloed en sy kultuur gestempel.
Prof. dr B.J. Engelbrecht

No comments: