2008/06/15

1977 : Junie 14 Geskiedenis Spoor Vandag: Paarlberg


Afrikaanse Taalmonument aan die Staat oorhandig
14 Junie 1977


Die indrukwekkende Afrikaanse Taalmonument pryk aan die suider hang van Paarlberg en is op 10 Oktober 1975 – honderd jaar na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 in die Paarl – deur die Eerste Minister, mnr, B.J. Vorster, onthul en op 14 Junie 1977 aan die staat oorhandig. Die oprigting van die Taalmonument was die verwesenliking van ‘n jare lange Afrikaner-ideaal. Die Afrikaanse Taalmonument komitee waarvan die sekretariaat deur die Afrikaanse Taal- en Kultuur bond (ATKB) behartig is, het onvermoeid daaraan gewerk. Die simboliek van die monument is deur die argitek, mnr. Jan van Wyk, gegrond op uitsprake oor die Afrikaanse taal deur die gevierde Afrikaner-skrywers C.J. Langenhoven en N.P. van Wyk Louw. Langenhoven het die groeipotensiaal van Afrikaanse in 1914 vergelyk met ‘n snel stygende boog (‘n hiperboliese kromme), en Van Wyk Louw het geskryf: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit die twee bronne; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika.” ‘n Suilegang van drie elemente versinnebeeld die Weste, vloei ineen met die snel stygende boog van die hoof suil (57m) en word ook met ‘n brug verbind met ‘n podium met drie rondings wat die magiese Afrika voorstel. Die Maleise taal en kultuur word voorgestel deur ‘n stomp muur op die trap aantrede. Saam met die hoof-taalsuil, in dieselfde lewegewende waterpoel met borrelende fontein, staan die staatkundige simbool – die republieksuil (26m) oop na Afrika. Die monument is gebou van gewapende beton met granietgruis uit die Paarlberg. Die kleurryke onthulling is voorafgegaan deur plaaslike taal feeste en ‘n fakkelloop oor sewe roetes uit elke uithoek van die Republiek en Suid-Wes. FAK

No comments: