2008/06/02

1967 : Junie 2 Geskiedenis Spoor Vandag: Handhawing en bevordering van Afrikaans


FAK se Taalkomitee gestig
2 Junie 1967


Die Hoofbestuur van die FAK het sy Taalkomitee gestig om hom te adviseer oor die wyse waarop die FAK sy taak ten opsigte van die handhawing en bevordering van Afrikaans kan uitvoer. Die komitee het van meet af aan doelgerig aandag geskenk aan die bevordering van Afrikaans onder meer in die sakewêreld, die hotelbedryf, die staatsdiens, die vervoerwese, op alle onderwys vlakke en die naamgewing van strate en dorpsgebiede. Dit is gedoen by wyse van gereelde briefwisseling en persoonlike onderhoude. Boek uitstallings, soos die omvangryke boeke fees in die Taalfeesjaar in die Paarl in 1975, is ‘n gereelde projek van die komitee om die lees van die Afrikaanse boek te bevorder. Die Langenhoven fees is in 1973 gereël, die gevierde skryfster M.E.R. is met haar honderdste verjaardag vereer, en huldigingsfeeste vir Totius (1977) en A.G. Visser (1978) is gehou. Die publikasies Afrikaans ons Pêrel van Groot Waarde en GRA Herdenk is op inisiatief van die komitee in 1974 en 1975 uitgegee. Afrikaans was by verskeie Algemene Vergaderings die kongres tema, en gereelde artikels oor al die aspekte van taalbevordering word vir Handhaaf gelewer. FAK

No comments: