2008/06/08

1918 : Junie 8 Geskiedenis Spoor Vandag: “Uit die volk gebore om die volk te dien”


Sanlam gestig
8 Junie 1918


Die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens-Assuransie-Maatskappy is op hierdie dag in Kaapstad onder voorsitterskap van W.A. Hofmeyr gestig. Die aanvangskapitaal was R50 000. In 1975 was Sanlam se bates R828 miljoen en het hy ongeveer 650 000 mense verseker. Daar word geraam dat die groep wat uit en rondom Sanlam bestaan, reeds meer as R3 000 miljoen se bates beheer. “Uit die volk gebore om die volk te dien,” was die leuse wat die kultuur manne Willie Hofmeyr, Charlie Louw. P.A. Malan en ander met die stigting van Sanlam vir die Maatskappy gekies het. Hulle het ‘n kapitaalkragtige saak beoog wat vir die verarmde Afrikanervolk geleenthede sou skep. Die klem by Sanlam het weliswaar geleidelik tot groter sake benadering en die uitbouing van ons landsekonomie verskuif, maar sy identiteit as Afrikaanse maatskappy is deurgaans behou. “Sanlam simboliseer die Afrikaner se vermoë om hom in die sakewêreld deur intelligente, eerlike, harde werk te handhaaf,” het sy voorsitter, dr. A.D. Wassenaar, by geleentheid gesê. Danksy die geesdrif van sy briljante jong aktuaris en besielende kultuur stryder, dr. M.S. (Tinie) Louw, en die daadkragtige FAK, Reddingsdaadbond en Ekonomiese Volkskongres (1939), is Federale Volksbeleggings in 1940 gestig met onder meer ‘n groot bydrae uit Sanlam-fondse, ten einde bedryfskap8taal vir nuwe Afrikaanse ondernemings te verskaf. Hier het die Afrikaner se ekonomiese vooruitgang begin wat later alle rassegroepe en ons landsekonomie sou bevoordeel. Omdat Sanlam hom steeds hou by sy stigtings leuse, het hy deur die jare heen op ‘n wye verskeidenheid kultuur terreine ‘n aansienlike ontwikkelingsrol gespeel, enersyds deur geldelike bydraes en andersyds deur bewaringsprojekte. Namens sy polishouers, aanvaar Sanlam steeds sy roeping om ons landsbelange te dien en ‘n gesonder, beter ontwikkelde volk te verseker. FAK

No comments: