2008/06/11

1906 : Junie 11 Geskiedenis Spoor Vandag: Afrikaanse taal


N.P. van Wyk Louw gebore
11 Junie 1906


Nicolaas Petrus van Wyk Louw, herkomstig uit die Karoo (Sutherland), is van die grootste Afrikaanse skrywers tot dusvêr. Hy het soos geen ander skrywer voor hom nie, die bakens van Afrikaanse menswees versit. Die Afrikaanse taal het gedurende die periode dat hy geskryf het, en in ‘n belangrike mate danksy hom, gegroei van ‘n skugtere literatuurtaal tot ‘n medium waarin alle fasette van menswees uitsêbaar geword het. Die Afrikaanse literatuur het onder sy hand en invloed onherkenbaar verander – vanaf iets plaaslik tot iets universeel. Maar ook die Afrikaanse denke was na Van Wyk Louw nie meer dieselfde as voorheen nie. Hy het die grondslae van die Afrikaanse nasionalisme soos geen ander voor hom nie (ook politici) deurdink en gefundeer. Deur sy dwingende argument voering en helder styl (bv. In Lojale verset, Berigte te velde en Liberale nasionalisme) kon hy die taak van Afrikanerskap in en vir ‘n nuwe tyd vertolk, sodat sy invloed na sy dood nog net so sterk is soos enige tyd daarvoor, veral by die jeug en die intellektuele. In die eerste plek rus sy roem egter op sy werk as skeppende kunstenaar. Die vernaamste kenmerk van sy skeppende werk is die omvang, gevarieerdheid en genuanseerdheid daarvan. In sy persoonlike liriek (bv. In die bundels Alleenspraak, Die halwe kring, Gestaltes en diere, Nuwe verse en Tristia) strek die spektrum vanaf die intieme belydenis vers (soos in Alleenspraak) tot die vers wat die vrug is van ‘n gedurfde denkworsteling met die werklikheid (soos in Tristia). In die epiek het hy Afrikaans se belangrikste enkele gedig geskryf Raka, die beelding van ‘n gemeenskap se ondergang, omdat dit ontrou geword het aan sy tradisies. In die drama het hy ‘n reeks werke geskep wat strek vanaf die onpretensieuse radiospel (bv. Blomme vir die winter) tot die grootste dramatiese spel in Afrikaans Germanicus, die tragedie van ‘n Romeinse heerser in die tyd van Christus wat ‘n ideaal van suiwer-menslikheid wou nastrewe in ‘n wêreld van boosheid en dekadensie. Hy is die Afrikaanse skrywer wat die Hertzogprys die meeste kere verower het: nie minder as vyf keer nie, waaruit afgelei kan word waarom hy beskou kan word as die grootste persoonlikheid in die Afrikaanse letterkunde. Hy het inderdaad die letterkundige toneel tot sy dood – op 18 Junie 1970 in Johannesburg – oorheers. Aka fak F.I.J.v.R

4 comments:

nikita said...

hmmm...ek sien hier is twee belangrike mense met wie ek my verjaarsdag deel! ;)

RoosMaryn said...

Baie geluk nikita!! ;)

nikita said...

Baie dankie! Ek lees af-en-toe nou, maar oor 4 weke het ons 'n lang vakansie, dan wil ek baie meer tyd hier kom deurbring!

RoosMaryn said...

In die aanskyn van ons sweet sal ons ons brood verdien. Heerlike vooruitsig wat jy het. VERLOF!! Lyk my jy lees ook baie, geniet dit en lekker rus ook. Ek kyk uit vir jou.