2008/06/08

1898 : Junie 7 Geskiedenis Spoor Vandag: Vredesooreenkoms onderteken


Oud-pres. F.W. Reitz word Staatsekretaris van die ZAR
7 Junie 1898


Francis William Reitz, eertydse Staatspresident van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, is as Staatsekretaris van die ZAR beëdig nadat dr. W.J. Leyds die pos in Mei 1898 ontruim het om as buitelandse gesant die belange van die Republiek, wat in groot spanning met Brittanje verkeer het, te gaan behartig. Nadat Reitz in Desember 1895 om gesondheidsredes as President van die OVS bedank het, het hy sodanig herstel dat hy in Julie 1897 as advokaat in Pretoria gaan praktiseer het. In Maart 1898 is hy tot vyfde strafregter van die Republiek genoem en drie maande later as Staatsekretaris. Die Staatsekretaris het ‘n baie belangrike plek in die regeringstelsel van die Republiek ingeneem. Die amp is in 1857 ingestel en was aanvanklik (tot in 1873) bekend as Goewerment sekretaris. Die Staatsekretaris was verantwoordelik vir die uitvoering van al die besluite van die Volksraad, die Uitvoerende Raad en die Regering. Die Regering het uit die Staatspresident en die Staatsekretaris bestaan, wat beteken het dat die bekleërs van hierdie twee ampte besonder nou met mekaar moes saamwerk. Daarbenewens was die Staatsekretaris ook lid van die Uitvoerende Raad en kon hy ook aldaar groot invloed uitoefen. As Staatsekretaris het Reitz die oorlog saam met die Transvalers tegemoetgegaan, het hy die ontberings op die slagveld deurgemaak en ook die vredesooreenkoms onderteken. Aka fak J.S.d.P

No comments: