2008/06/24

1892 : Junie 24 Geskiedenis Spoor Vandag: Dubbelmedium beleid


Dr. Theo Wassenaar gebore
24 Junie 1892


Theodorus Wassenaar is gebore op Hendrina, waar hy sy eerste onderrig op die plaas ontvang het. In 1909 gaan hy na Middelburg, en in 1910 ontvang hy ‘n beurs vir verdere studie in Holland. Daar raak hy in Afrikaans geïnteresseerd en begin skryf. In Oxford raak hy onder die invloed van Shelley, en later Perk, onder wie se invloed hy die sonnet vorm gebruik. Hy kwalifiseer in Amsterdam as oogspesialis. Hy was ‘n tyd lank oogarts op Lydenburg en daarna professor in Fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sedert 1934 neem hy deel aan die politiek. Vanaf 1943 is hy LPR, en later word hy lid van die Uitvoerende Komitee van die Transvaalse Provinsiale Raad. Hier het hy veral sy stem laat hoor teen die dubbelmedium beleid op skool, aangesien hy gemeen het dat dit albei landstale sou benadeel. Sedert 1941 publiseer hy gedigte in Die Brandwag onder die skuilnaam Adeodatus (Latyn vir Theodorus) en later ook in Die nuwe Brandwag. Hy vertaal die Griekse drama Oidipus in Afrikaans. As tipiese Twintiger digter dig hy dikwels konvensioneel, tog vertoon sy verse ‘n gevoeligheid. In 1921 publiseer hy sy bundel Gedigte, wat in 1938 met wysigings heruitgegee is. Sy werk staan buite die ontwikkeling van Dertig, tog het hy talle digters na hom beïnvloed. Dr Wassenaar is ‘n vurige en toegewyde kultuurmens, stigterslid van die FAK, kampvegter vir Afrikaans en die kultuurregte van die Afrikaner. Onder sy talle prestasies op die Gebied was sy inisiatief en dryfkrag agter die totstandkoming van die Afrikaanse mediese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria. Aka fak P.G.N

No comments: