2008/06/21

1846 : Junie 21 Geskiedenis Spoor Vandag: Vruggebruik van ZASM (Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland) trust


G.A.A. Middelberg gebore
21 Junie 1846

Gerrit Adriaan Arnold Middelberg is te Boskoop, Nederland, gebore. Hy word groot in Amsterdam, werk ‘n tyd lank in ‘n Skotse handelskantoor, maar besluit tot ‘n wetenskaplike rigting. Hy behaal in 1868 die diploma van werktuigkundige ingenieur aan die politegniese skool in Hannover en tree in Europa in diens van verskeie spoorwegmaatskappye.

In 1890 word hy mededirekteur van die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappy. Daar is reeds in 1884 met die oprigting van hierdie maatskappy begin, maar dit kom eers in 1887 met die hulp van Nederlandse en Duitse kapitaal tot stand en verkry ‘n konsessie vir die bou van die Oosterspoor van Lourenco Marques na Pretoria.

Toe in 1890 met die bou van die spoorweg begin is, word Middelberg as direkteur aangewys om in Suid-Afrika teenwoordig te wees. Nadat hy kort tydperke in Suid-Afrika werksaam was, vestig hy hom vanaf 1894 in Pretoria. Hy en sy eggenote betrek die NZASM- huis in Markstraat (tans Paul Krugerstraat) Die Middelbergs word bekend vir hulle gasvryheid en die weeklikse musiekaande wat mev. Middelberg gehou het. Middelberg het onbevooroordeeld na Suid-Afrika gekom en toon insig in die politieke probleme van die dae. Hy het veral begrip vir die vryheidstrewe van die ZAR gehad.

Hierdie vryheidstrewe het saamgehang met die bou van die Oosterlyn, wat aan die Republiek ekonomiese onafhanklikheid sou gee. Met die voltooiing van hierdie spoorlyn, kon die ZAR sy goedere onafhanklik van Britse hawens in- en uitvoer, en dit sou dus aan hulle ‘n groter mate van selfstandigheid besorg. Middelberg se uitstekende administrasie het die NZASM tot bloei gebring.

Hy het ten nouste saamgewerk met die regering van die ZAR en het pres. Paul Kruger en sy Uitvoerende Raad dikwels van advies gedien. Gedurende Middelberg se direkteurskap word die Oosterspoor voltooi, aansluiting oor Johannesburg en Vereeniging met die Vrystaatse (of Kaapse) en Natalse spoorwegstelsel bewerkstellig, terwyl ‘n spoorlyn in die westelike rigting oor Potchefstroom tot Klerksdorp deur die NZASM gebou word.

Onder sy administrasie het nie net die ZAR nie, maar ook die hele Suid-Afrika dus ‘n begin gemaak met ‘n spoorwegnetwerk. In 1898 tree Middelberg met pensioen af, en in 1899 verlaat die Middelbergs Pretoria.

Sy weeklikse briewe wat hy van 1896 tot 1899 oor al sy ondervindinge geskrywe het, het veral kultuurhistoriese belang. Hierin kom sy karakter ook duidelik tot uiting. Middelberg het die res van sy lewe in Loenersloot, naby Amsterdam, geslyt, maar het steeds belang gestel in Suid-Afrika.

In die Engelse Oorlog het hy ‘n aandeel in Nederlandse hulpverlening aan die Boere gehad. Hy was ook as kommissaris behulpsaam met die afhandeling van die sake van die NZASM, wat na 1900 tot likwidasie oorgegaan het as gevolg van die Engelse Oorlog en uit vrees dat Brittanje na die inname van Pretoria deur die Britse troepe beslag op die NZASM-fonds sou lê.

Hierdie geld is teruggestuur na Amsterdam en elders in Nederland, waar dit in trust geplaas is onder die naam Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland (ZASM), wat voortaan oor die vruggebruik van die fonds sou beskik met kulturele doelstellings – ook vir sover dit die kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika aangaan.

Middelberg het Suid-Afrika na sy terugkeer na Nederland nog twee keer besoek, t.w. in 1904 toe hy die stoflike oorskot van pres. Paul Kruger vergesel het, en weer in 1909. Hy sterf op 6 Maart 1916 in Loenersloot. Aka fak P.G.N

No comments: