2008/06/08

1837 : Junie 8 Geskiedenis Spoor Vandag: Merensky-Trust


Alexander Merensky gebore
8 Junie 1837

Alexander Merensky is in die omgewing van Liegritz, Neder-Silesië in Pole gebore. Na sy aankoms in die Kaap in 1858 het hy verlof van die Bapedi-opperhoof, Sekwati, gekry om met sendingwerk te begin en daarmee die grondslag gelê vir sendingwerk deur dei Berlynse Sendinggenootskap in Transvaal. In die omgewing van Middelburg het hy mettertyd die model-sendingstasie Bothsabêlo opgerig. As aardrykskundige het Merensky ook belangrike bydraes gelewer. In 1868 het hy en F. Jeppe die eerste kaart van Transvaal geteken en laat druk. Ook het gegewens wat hy aan Karl Mauch beskikbaar gestel het, laasgenoemde gehelp om die Zimbabwe-bouvalle te ontdek. Merensky se pogings in 1877 om vrede te bewerkstellig tussen die Boere en Sekoekoenie het hom onder verdenking gebring sowel by die Boere as by Shepstone. Toe sy gesondheid boonop ook nog instort, het hy in 1882 na Duitsland teruggekeer. Merensky is op 22 Mei 1918 in Berlyn oorlede. Een van Merensky se seuns, Hans, wat op 16 Maart 1871 op Bothsabêlo gebore is, het ook algemene bekendheid verwerf. Hy is opgelei as geoloog en myningenieur aan die Staats akademie vir Mynwese in Berlyn en het in 1904 na Suid-Afrika gekom. Kort na sy aankoms ontdek hy tin naby Pretoria, en in 1924 ontdek hy ook ‘n platinum rif (die Merensky-rif) in die Lydenburg-distrik, terwyl sy ondersoeke ook gelei het tot die ontginning van die spoeldelwerye by Alexanderbaai en groot chroom neerslae by Pietersburg, die ontwikkeling van die Vrystaatse goudvelde en ontsluiting van die ryk fosfaat neerslae by Phalaborwa. Na sy dood op 21 Oktober 1952 op sy plaas Westphalia, het kragtens sy testament die Hans Merensky-Trust tot stand gekom wat in 1974 omskep is in die Merensky-stigting, waarmee voortgegaan kon word met die werk wat sy stigter in belang van Suid-Afrika gedoen het. G.J. Jooste

No comments: