2008/06/26

1806 : Junie 26 Geskiedenis Spoor Vandag: Afrikanerpioniersvrou


Antjie Scheepers gebore
26 Junie 1806


Anna Susanna (Antjie) Scheepers is by uitstek ‘n voorbeeld van die negentiende-eeuse Afrikanerpioniersvrou. Sy is in die Swellendamse distrik gebore en het grootgeword op die voorposte, waar slegs die sterkstes deur fisieke krag, deursettingsvermoë en gesonde oordeel die stryd om te bestaan kon oorlewe. Sy en haar man, Gert Scheepers, het hulle in 1835 by die trekgeselskap van Louis Tregardt (Trichardt) aangesluit, maar reeds in 1837 beswyk aan koors, sodat sy as weduwee met nege kinders die res van die trek van Delagoabaai meemaak. Hulpeloos was Antjie Scheepers egter allermins. Sy bou eiehandig ‘n rondawel en behartig haar wa en vee sonder die hulp van bediendes. Sy staan ook haar plek as gesinshoof vol en handhaaf die sedes van haar volk deur haar kinders te tugtig as hulle verbrou. Louis Tregardt teken in sy dagboek aan dat drie seuns, onder andere ‘n seun van Antjie Scheepers, op ‘n keer besluit het om weg te loop. Toe hulle na ‘n paar dae van ontbering terugkeer, het Tregardt gereken dat hulle genoeg gestraf is, maar daarmee was die weduwee Scheepers nie gediend nie. Sy laat haar seun deur twee mans vashou en dien hom met twee stroppe ‘n gedugtige loesing toe. In ‘n krisis raak sy ook nie maklik verskrik nie; so vind sy saam met Martha Tregardt en Breggie Pretorius ‘n plek om langs die steil Drakensberg af te trek, nadat die manlike lede van die trek al feitlik moed opgegee het. Sy was liggaamlik sterk en gesond, sodat sy een van die weinige volwassenes is wat die trek oorlewe en na Natal teruggekeer het. Sy is in 1844 weer getroud en het na die dood van haar tweede man in die distrik Ladybrand gewoon, waar sy op 9 Augustus 1878 oorlede is. As huldebetoon aan hierdie kranige vrou is daar vir haar ‘n monument op die hoërskool terrein in Ladybrand opgerig. Die Anna Scheepers-Landbou huishoudskool op Tweespruit is na haar genoem. Aka fak J.C.P

No comments: