2008/05/18

1964 : Mei 18 Geskiedenis Spoor Vandag : Modderrivier brug opgeblaas


Mei 18
1964
Harm Oost oorlede


Harm Oost was een van die kleurrykste persoonlikhede in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Hy is in 1877 in Oostwald, Groningen, Nederland gebore. In die laat negentigerjare het hy na Suid-Afrika geëmigreer, hom in Transvaal gevestig en hom dadelik met die Boerevolk en sy Republikeinse staatsvorm vereenselwig. In die Engelse Oorlog is hy gevange geneem nadat hy gehelp het om die Modderrivier brug op te blaas – ‘n daad wat hom amper voor die vuurpeloton laat beland het.

Na die oorlog het hy hom saam met Gustav Preller beywer vir die opheffing van Afrikaans as kultuurtaal en daarmee die Tweede Taalbeweging begin. Sy toneelstuk, Ou Daniel, die eerste Afrikaanse drama wat in Transvaal geskryf is, is dikwels opgevoer. Hy was ‘n knap joernalis en het van 1907 tot 1911 in die redaksie van De Volkstem (redakteur D.J. Engelen burg) gedien. As gevolg van politieke oorwegings het hy ‘n eie koerantjie, Die Week, begin, wat later deur Die Volk opgevolg is. Die koerante het die beleid van genl. Hertzog verkondig. Later, met die stigting van Ons Vaderland het Harm Oost daarvan redakteur geword, ‘n pos wat hy neergelê het toe hy tot die Volksraad verkies is. Tydens die Rebellie het hy hom aan die kant van die rebelle geskaar as sekretaris en hoof van genl. De Wet se lyfwag. Hy is gevang en het 18 maande gevangenisstraf, waarvan vier maande in eensame opsluiting was, uitgedien. In 1912 het hy saam met ses ander, die onder voorsitterskap van Tielman Roos, ‘n organisasie gestig om Hertzog se beleid te propageer – voorloper van die Nasionale Party. In die later jare sou Oost sy party se verteenwoordiger in die Volksraad in die kiesafdeling Pretoria-Wes word. In die Hertzog monument in Bloemfontein vind die Afrikaner rede om Harm Oost te onthou, want dit was sy hartsbegeerte om ‘n waardige gedenkteken vir hierdie groot Afrikanerleier te laat oprig. Tot met sy dood was hy voorsitter van die Hertzog monument-komitee. FAK

No comments: