2008/05/13

1947 : Mei 13 Geskiedenis Spoor Vandag : Armblankevraagstuk


Mei 13
1947
Prof. N.J. Brümmer oorlede


Toe Nicolaas Johannes Brümmer, wat op 27 Julie 1866 op Prospect, Dordrecht, gebore is, in sy 81ste lewensjaar te sterwe kom, was hy ‘n bekende hoogleraar, skrywer, kultuurleier en leraar van die NG Kerk. Gedurende sy gemeentebediening (1899 tot 1911) was hy een van die eerstes wat erns met die armblankevraagstuk maak. Hy onderskei hom as kultuurleier, wat ook die pen met ‘n vaardige hand hanteer. As student redigeer hy in 1893 die eerste uitgawe van die latere studenteblad van Stellenbosch. Sy bekende lesing voor die studente alhier, Die Afrikanernasie, verskyn aanvanklik in die kultuur blad Goede Hoop – waarvan hy redakteur word (1914 tot 1930). Hy het deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (1906) en word later voorsitter daarvan; die oprigting van die tydskrif Ons Taal (1907 tot 1909); die opstel van die spelreëls (deur die ATV in 1909) en die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Akademie van Taal, Letteren en Kunst. Een en dertig jaar lank (vanaf 1911) is hy professor in Wysbegeerte, eers aan die Victoria-kollege en toe aan die Universiteit van Stellenbosch – wat hy help om tot stand te bring. Onberekenbaar is sy invloed op die honderde leraars van die NG Kerk wat in hulle voorstudie aan sy voete is. E.B

No comments: