2008/05/08

1945 : Mei 8 Geskiedenis Spoor Vandag : Ossewa-Brandwag en die Stormjaers


Mei 8
1945
Einde van die Tweede Wêreldoorlog


Op 7 Mei 1945 is ‘n dokument deur lt. –genl. Bedell Smith en genl.. A.G. Jodl onderteken waarvolgens Duitsland onvoorwaardelik oorgegee het. Alle vyandelikhede sou om middernag op 8 Mei 1945 gestaak word. Hierdie ooreenkoms is op 9 Mei 1945 in Berlyn deur die Duitse Opperbevel bekragtig. Dit het die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Europa beteken. Dit het Suid-Afrika ook direk geraak, want op 6 September 1939 het die Suid-Afrikaanse Parlement met 80 teen 67 stemme besluit om aan die Geallieerde kant teen die Spilmoondhede oorlog te verklaar. Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog het ‘n hewige politieke stryd laat losbars waarin organisasies soos die Ossewa-Brandwag en die meer ekstremistiese Stormjaers ‘n belangrike rol gespeel het. Die oorlog het die volk dus in twee kampe gejaag, maar daar was ook ‘n positiewe kant, want die oorlog het ekonomiese voorspoed aan Suid-Afrika besorg, deurdat die goudprys gestyg, uitvoer toegeneem en ‘n geweldige industriële ontwikkeling plaasgevind het. Daardeur het die lewenstandaard veral van die arm-blanke aansienlik gestyg. Daar was tekens dat die Nasionale opposisie gekonsolideerd geraak het en besig was om van krag tot krag te gaan, nieteenstaande die feit dat die regerende Verenigde Party uitwendig sterk voorgekom het. Tog was dit ‘n verrassing toe die Nasionale Party op 26 Mei 1948 aan die bewind gekom het en Suid-Afrika daardeur op die weg na ‘n republikeinse staatsvorm geplaas is, wat op 31 Mei 1961 verwesenlik sou word. As gevolg van die rassediskriminasie in die Duitsland van Hitler was daar dwarsdeur die wêreld ‘n poging om skeidslyne tussen verskillende rasse af te breek. ‘n Periode van dekolonisasie het in Afrika begin, dit wil sê, die abdikasie van die blanke en die opkoms van die swarte. In hierdie proses het die Nasionale Party se beleid van segregasie en Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika wêreld strydpunte geword. Aka fak C.M.B

No comments: