2008/05/27

1914 : Mei 27 Geskiedenis Spoor Vandag : Hertzog betaal skadevergoeding en Hof onkoste wat lei tot Hertzogprys


27 Mei 1914
Instelling van die Hertzogprys


Die ontstaan van die Hertzogprys kan teruggevoer word tot 1907 toe die Vrystaat verantwoordelik bestuur verkry het. Genl. J.B.M. Hertzog, destydse Minister van Onderwys, het in 1908 ‘n nuwe onderwyswet deur die Vrystaatse parlement aangeneem gekry wat dubbelmedium-onderwys verpligtend maak en hoër besoldiging aan volkome tweetalige onderwysers vasstel. Verset breek onder ‘n aantal eentalige Engelse onderwysers en Engelse ouers uit. Drie inspekteurs word afgedank weens moedswillige pogings om die wet te verongeluk. Na aanleiding van sekere woorde wat genl. Hertzog sou gebruik het, word ‘n laseraksie deur een van die inspekteurs, ene Fraser, teen die Minister ingestel. Fraser wen die saak, en genl. Hertzog moet £25 (R50) skadevergoeding en die hof onkoste betaal. Die openbare gevoel ten gunste van genl. Hertzog was so sterk dat ‘n insameling om sy hof onkoste te bestry, ‘n saldo van £1 200 (R2 400) gelaat het. Hierdie bedrag is aan die Akademie geskenk om die beste letterkundige werk in Afrikaans te bekroon. Die skenking sake van 27 Mei 1914 het onder meer bepaal dat “alleen werk van die eerste rang zal beloond worden”. Die eerste toekenning is in 1915 aan Totius gedoen vir Trekkerswee. Met instemming van die skenker, het alle letterkundige werk vanaf 1923 vanselfsprekend in aanmerking gekom. In 1928 is die rotasiestelsel ingestel, en die drie genres kom om die drie jaar aan die beurt, beginnende by poësie, dan drama en daarna prosa. Aka fak D.J.C.G

Trekkersweë
Verse van Totius
Silwer Strale
XV
Die nag is heen, die môre is grys;
'n plaat van tente en waens
wyswaar Perdekraal se steenhoop rys
teen hoë hange.

Daar staan hul aan die grond gepénd
die geweltjies so mooi orent—
die eie maaksels, tent aan tent,
in suiwer range.

o Trekkersvolk, my hart ontgloei!
Ek sien hoe jul die vreemde boei
verbreek het, om dan uit te bloei
tot eie nasie.

Nie net 'n eie vaderland,
nie net 'n eie vlag geplant,
maar àlles maak van eie hand—
geen imitasie!

Hoe lê die tentseil, baan aan baan.
Hoe wakker bly die nokke staan.
Die klappies netjies oopgeslaan—
mooi eenheid same.

Sy staan daar by die wa se as,
die huis van doek, so lossies-vas,
skoon nes in môredou gewas—
'n blanke dame.

Twee lang wit kappe in die veld:
'n wa en tent daarnaas gesteld,
tweeheid tot eenheid saamgesmelt
in sware stonde.

Die wa—'n sterke man is hy;
die tent—'n taaie vrou is sy.
Jul het die nasie uitgelei,
sy boei's ontbonde.

Lig op haar voet net soos die ree
en trekkend met die trekker mee
bied sy hom tog 'n vaste stee
in angs-geweste:

as wolkbreuk beuk die witte wand,
die sonstrale op die nokke brand
of nagdier sluip oor donker land,
'n veil'ge veste.

En as sy wa nie verder dring,
hoor ek by wind haar fladdering
die lied van boerbeskawing sing,
stemmig-tevrede.

Dan word haar seile trou bewaar:
by feesdag net span sy 'n laer
en straal haar seile dankbaar daar
van groot verlede.

No comments: