2008/05/14

1873 : Mei 14 Geskiedenis Spoor Vandag : Kultureel-politieke probleme


Mei 14
1873
Lydenburg se delwerye geproklameer


Sedert 1836 is gereeld na minerale, veral goud en diamante, in Transvaal gesoek. Karl Mauch se goud ontdekkings van 1865 tot 1873 het hierdie koors aangeblaas. Die ondersoeke op die Tati-goudveld het vêrdere stimulus meegebring. Mense soos P.J. Marais en Edward Button het die gemoedere gaande gehou. In 1871 het die Transvaalse Volksraad sy eerste mynwet aangaande die ontginning van edele minerale en metale goedgekeur. Dit het meer belangstellendes gelok. Thomas McLachlan, James Sutherland en Button het in Januarie 1871 ‘n beloning van die owerheid geëis vir die feit dat hulle in Lydenburg se omgewing by die Selatirivier in die Murchison-bergreeks goud ontdek het. Die versoek is aangeteken, en Button veral het bly prospekteer. Veral by Eersteling naby Marabastad in die Lydenburgse distrik het hy onmiskenbaar goud gevind. Talle mense het hierna links en regs in die Lydenburgse omgewing begin soek, en klein maatskappye is gevorm. By Geelhoutboom en Graskop is eweneens goud gevind. Die Transvaalse owerheid het gevolglik op 14 Mei 1873 die wyk Ohrigstadrivier, distrik Lydenburg, tot ‘n openbare goudveld geproklameer. Baie gou sou fortuinsoekers hierheen stroom en kultureel-politieke probleme inlui.

No comments: