2008/05/21

1837 : Mei 21 Geskiedenis Spoor Vandag : Aalmoeseniers weeshuis


Mei 21
1837
Erasmus Smit a predikant aangestel


Gebore op 2 Augustus 1778 in Buiksloot, Nederland, is hy van 1786 af in die Aalmoeseniers weeshuis opgevoed. In 1801 het die Nederlandse Sendinggenootskap hom as sendeling opgelei en ingeseën: dit was nie ‘n amptelike ordening nie, dus het hy nie die bevoegdheid verkry om die sakramente te bedien nie.
In Oktober 1804 het hy in Kaapstad aangekom en op Bethelsdorp begin arbei.
In Junie 1813 het hy met die dertienjarige Susanne Catharina Maritz, oudste suster van Gert Maritz, in die huwelik getree en ‘n sending instituut by Torenberg (vandag Colesberg) aangelê. Daar is hy op 15 September 1816 deur eerw. James Read, superintendent van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, as sendeling georden en het hy gevolglik ook die bevoegdheid verkry om die sakramente aan nie-blankes wat deur sendelinge bekeer is, te bedien, maar nie aan lidmate van enige kerkgenootskap of hulle kinders nie.
Van 1818 tot 1836 het hy agtereenvolgens op Kookfontein (naby Beaufort-Wes), Stellenbosch, Olifantshoek (tans Alexandria) en Graaff-Reinet gearbei, en in September 1836 het hy saam met die Maritz-trek die Kaapkolonie verlaat. Hy het in die Voortrekkers se geestelike behoeftes voorsien, maar ernstige verdeeldheid het ontstaan omdat hy nie die sakramente kon bedien nie.
Onder druk van omstandighede het hy op 17 Maart 1837 wederregtelik vir die eerste keer die doop op die Groot Trek bedien. Dit het die Voortrekker gemeente in twee geskeur. Na sy verkiesing as goewerneur, het Piet Retief vir Smit beveel om hom in die erediens op 23 April 1837 as leraar te bevestig. Hewige teenkanting het dit in die wiele gery.
Die besware teen Smit was veral dat hy nie die sakramente aan blankes kon bedien nie, maar ook dat hy ‘n onaangename geaardheid gehad het en reeds oud en mankoliek was, sodat hy sy predikantswerk nie behoorlik kon verrig nie. Retief het egter daarop aangedring dat Smit as leraar aangestel word, en op 21 Mei 1837 is hy voor ‘n aansienlike getal toehoorders deur homself as eerste leraar van die “reisende gemeente der Gereformeerde Kerk naar Port Natal” bevestig.
Geen besware is geopper nie, en hy is amptelik vir al die Voortrekkers aangestel. Hy sou ook die sakramente kon bedien. Baie Voortrekkers het hulle egter van hom gedistansieer. Op 6 Junie 1837 het hy goew. Retief voor die gemeente kerklik ingeseën. Tydens die Voortrekkers se lotgevalle in Natal, het hy onvermoeid sy predikantswerk verrig. Sedert Januarie 1839 het hy op Pietermaritzburg gewoon en as leraar gearbei totdat hy op 10 Februarie 1841 verplig is om sy emeritaat te aanvaar.
Hy en Susanna het in ‘n armoedige huisie in Bergstraat gewoon. ‘n Week na Susanna se dood is hy op 3 Augustus 1863 oorlede. Hy is langs sy vrou in die Voortrekker begraafplaas in Commercialweg begrawe. Aka fak P.S.d.J

No comments: