2008/05/09

1828 : Mei 9 Geskiedenis Spoor Vandag : Grey Kollege


Mei 9
1828
Dr. Andrew Murry gebore


Hy was een van die vroomste en invloedrykste predikante wat die NG Kerk nog opgelewer het. Hy is as tienjarige na Aberdeen, Skotland gestuur vir skool- en universiteitsopleiding. Hier behaal hy die MA-graad. In 1845 gaan hy en sy broer John na die Universiteit van Utrecht met die oog op die teologiese studie vir toelating tot die bediening. Hy was innig gelowig en sterk Puriteins georiënteer. Dus het die liberale rigting in die Teologie in Holland hom baie geskok. Met die stryd teen die liberalisme gedurende die Sinode in 1862, was hy moderator en het in die brandpunt van die bestryding daarvan gestaan. In 1849 word hy bevestig as leraar van Bloemfontein, en hy was prakties gesproke, totdat ds. Van der Hoff in 1852 gekom het, die enigste geordende predikant onder die Boere noord van die Oranjerivier. Hy het vier besoeke in die Transvaal afgelê., Nagmaal bedien, troues waargeneem en kinders gedoop. In sy veelsydigheid, benewens as kerkleier (hy was vyf keer moderator van die Kaapse Sinode), het hy op twee vlakke uitgemunt. Ten eerste het hy in die onderwys belang gestel. Met behulp van ‘n ruim skenking van sir George Grey, stig hy die Grey-Kollege in Bloemfontein. Daaruit het later die UOVS ontwikkel. In Kaapstad stig hy die Kaapse Onderwyskollege en in Wellington die Hugenote-Seminarium en die Sending-Instituut. Laasgenoemde het later doodgeloop toe die opleiding van sendelinge na die Kweekskool op Stellenbosch oorgeplaas is. Al hierdie inrigtings was Christelik georiënteer, en van hulle af het ‘n geweldige invloed oor die hele Suid-Afrika uitgegaan. Ten tweede was hy die skrywer van ongeveer 250 stigtelike boeke in Hollands en Engels. Van hieruit het nie net groot invloed uitgegaan in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld. Sekere van hierdie boeke word vandag nog oor die hele wêreld gelees. Dit getuig van ‘n oortuigde Calvinistiese lewensopvatting, getemper deur ‘n innige geloofsbelewenis. Hy is op 18 Januarie 1917 in Wellington oorlede. F.C.P

No comments: