2008/05/19

1787 : Mei 19 Geskiedenis Spoor Vandag : Monument


Mei 19
1787
Prof. U.G. Lauts gebore


Ulrich Gerhard Lauts, gebore in Amster5dam, Nederland, was agtereenvolgens sakeman, staatsamptenaar en akademikus en ‘n leiersfiguur met ‘n lewende belangstelling in die handel, tale, letterkunde en geskiedenis, was die vader van die pro-Boerebeweging in Nederland. Toe daar in die veertigerjare van die vorige eeu roepstemme om steun van die Hollands-Afrikaanse inwoners van SA in Nederland gehoor is, was Lauts op die voorpunt om simpatiek daarop te reageer. Tot met sy afsterwe op 25 Julie 1865 in Utrecht, Nederland, het hy ‘n belangrike deel van sy lewe gewy aan die verlening van morele en geestelike steun aan die Voortrekkers en aan stamverwante in die Kaapkolonie. Hy het sy deel ruimskoots bygedra tot die opbou en ontwikkeling van Transvaal en die Oranje-Vrystaat. Ten opsigte van eersgenoemde is die vrugte van sy werk innig verbind aan die worsteljare van ‘n jong kragtige samelewing in sy groei tydperk. In SA sal Lauts steeds in dankbaarheid onthou word as kundige beriggewer in die Nederlandse pers oor ons land, sy mense en sy destydse behoeftes en as geskiedskrywer van dei Groot Trek. Sy historiese werk De Kaapsche Landverhuizers en ‘n biografie oor kmdt.-genl. Andries Pretorius, behoort saam met ander historiese geskrifte uit sy pen, tot die oudste produkte van geskiedskrywing wat betrekking het op die Groot Trek-tydperk. Hy was ook die organiseerder van handelsekspedisies in Transvaal, aanmoediger vir landverhuising van Nederlanders na SA, werwer v an onderwysers, predikante en geskoolde werkers en voorts ‘n ywerige bevorderaar van die Voortrekkers se geestelike, stoflike en staatkundige belange. In die Transvaalse Argiefbewaarplek word die Lautsversameling, wat sedert 1925 deur talle navorsers geraadpleeg is, bewaar. Dit is van onskatbare waarde vir historiese navorsers, ‘n kosbare bron van inligting en ‘n waardige monument vir Lauts en sy lewenswerk. Die tyd het dalk aangebreek dat die hele omvangryke dokumente versameling deur die staat in boekvorm gepubliseer word om dit sodoende vir die breë publiek meer toeganklik te maak. aka fak H.M.R

No comments: