2008/05/19

1849 : Mei 19 Geskiedenis Spoor Vandag : Strafkolonie


Mei 19
1849
Die Anti-Bandiete betoging in Kaapstad


Die Britse gevangene bevolking het veral vanweë die Ierse onrus drasties toegeneem. Lord Grey, minister van kolonies, het toe besluit dat ook Suid-Afrika voortaan as strafkolonie soos Australië gebruik sal word. Die hele Kaap was in verset toe die besluit bekend geword het. Goewerneur Harry Smith moes net lelik bontstaan, maar hy was aan die Kapenaars se kant. Ongeag protesnotas en agitasies het Grey hom doof gehou. Die openbare byeenkoms van 19 Mei 1849 op die Parade wat deur 5 000 mense bygewoon is, het hom eweneens koud gelaat. Hier is ‘n Anti-Bandiete beweging gestig, en die gemoedere het opgevlam. Pamflette is geskryf en talle lede van die Wetgewende Raad, veldkornette en ander burgerlike ampsdraers het uit hulle poste bedank. Middel 1849 het Grey die Neptune met 288 van hierdie bandiete aan boord na die Kaap gestuur. Die Kaapse verset het behoorlik momentum gekry. Manne soos J.B. Ebden, Christoffel Brand, John Fairbairn en H. Roos het Londen se optrede sterk veroordeel en teengestaan. Te ander persone in die vakante betrekkings, na die bedankings vroeër, aangewys is, is hulle sosiaal vermy en gemolesteer en is hulle wonings aangeval. Op 19 September 1849 het die Neptune met sy ongelukkige mens vrag Simonsbaai binnegeseil. ‘n Boikot beleid is dadelik georganiseer, sodat niks verskaf moet word nie. Winkels en ander instellings is vermy as hulle handel gedryf het, en mense se name is op ‘n swartlys geplaas. Vier maande het die boot doelloos voor anker gelê. Op 21 Februarie 1850 het die boot in opdrag van Grey die Kaap verlaat. Stedeling en plattelander, Boer en Brit, het saam-saam teen Londen getriomfeer. Die beginsel van Kaapse inspraak en erkenning is bewys. Kroonkolonie bestuur was verby, en in 1853 het verteenwoordigende regering gevolg. Die Hollandse Heerengracht het, helaas, Adderleystraat geword. Kaapstad se dankbetoon aan C.B. Adderley van die Britse laerhuis vir sy steun aan die Kapenaars in hulle verset. Heerengracht straat is veel later gedeeltelik herstel, maar Adderleystraat het eweneens gebly. Aka fak M.J.S

No comments: