2008/05/12

1652 : Mei 12 Geskiedenis Spoor Vandag : Deelgenoot Maatskappye met ander bevolkings


Mei 12
1915
Nasionale Pers as maatskappy geregistreer


Die registrasie van De Nationale Pers, Beperkt, as maatskappy het gevolg op ‘n vergadering wat op 18 Desember 1914 gehou is in Heemstede, die huis van Henderik Bergh in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch. Sestien vooraanstaande Afrikaners was aanwesig. W.A. Hofmeyr is tot voorsitter gekies. Van die aanwesiges het alleen adv. J.H.H. de Waal enige ondervinding van koerantwerk gehad; nogtans word besluit “dat het wenselik is een Hollands niewsblad uit te geven”. Volgens berekening van W.A. Hofmeyr sou ‘n kapitaal van £80 000 (volgens geldwaardes in 1979 waarskynlik omtrent R160 000) nodig wees om ‘n maatskappy te stig om die doel te verwesenlik. Toe die volgende vergadering na twaalf dae gehou word, is die kapitaal[probleem grootliks opgelos nadat mnr. Jannie Marais ingewillig het om £5 000 se aandele te neem en sy broer Christiaan £1 000 s’n. Op hierdie vergadering is besluit dat die koerant De Burger sou heet. In April 1915 het die maatskappy wat die koerant sou druk, kop uitgetrek. ‘n Ernstige probleem is oorkom toe die stigters daarin slaag om ‘n tweedehandse rolpers te koop met die geldelike bystand en in die naam van mnr. Jannie Marais – die Nasionale Pers was immers nog nie geregistreer nie. By die registrasie was die nominale kapitaal van die Nasionale Pers £30 000, waarvan net £20 000 ingeskryf was. Weens geldelike probleme ten gevolge van die stryd teen die koerant in die oorlogs jare, moes die kapitaal egter tot £50 00 verhoog en aandeelhouers met groot moeite gewerf word. In 1977 is die nominale kapitaal R2 miljoen. Die Nasionale Pers het ‘n perseel gehuur op die hoek van Keerom- en Leeuwenstraat, Kaapstad. Die adres, Keeromstraat 30, het een van die bekendste adresse in Suid-Afrika geword, vereenselwig met die nasionale strewe van die Afrikaner. In 1924 het die Pers die gebou gekoop vir £30 000. In 1916 begin die Nasionale Pers as uitgewer van tydskrifte met Die Huisgenoot, in 1917 as uitgewer van boeke; en in 1918 tree hy tot die boekhandel toe met die stigting van Die Burger Boekhandel, wat later die Nasionale Boekhandel geword het. Teen 1948 het die bedrywighede van die Nasionale Pers so omvangryk geword dat daar oorgegaan is tot die stigting van maatskappye vir die uitgee van boeke, vir die boekhandel, vir koerante, vir tydskrifte en vir boek- en handelsdrukwerk. Deur sy filiaal Nasionale Boekhandel Beperk het die Nasionale Pers in die sewentigerjare deelgenootskap maatskappye vir die boekebedryf begin stig met die Kleurlinge, die Indiërs en bevolkings van verskeie tuislande. Aka fak J.P.S

No comments: