2008/04/17

1962 : 17 April Geskiedenis Spoor Vandag : Nasionale Jeugraad

17 April
1962
Jeugraad van die FAK gestig

As regstreekse uitvloeisel van die Jeugkongres van die FAK wat op 16 en 17 April 1962 in Pretoria gehou is, is die Nasionale Jeugraad gestig. Later het die Hoofbestuur van die FAK besluit dat die Nasionale Jeugraad voortaan slegs as die Jeugraad van die FAK bekend sal staan. ‘n Besondere mylpaal is bereik toe die Departement Sosiologie van die Universiteit van Pretoria op 1 April 1964 deur die Jeugraad versoek is om ‘n omvattende ondersoek na Jeug aangeleenthede te begin. Professore J.E. Pieterse as navorsingsdirekteur en G. Cronje as adviseur het die ondersoek gelei. Die verslag van die ondersoek het tot ‘n paar doktorale proefskrifte in Sosiologie gelei. Die verslag is in vier publikasies vervat: Jeug en Arbeid, Jeug en Kultuur, Jeug en Vrye Tyd en Jeug en Godsdiens. Tydens ‘n jeugkongres in 1968 is die bevindinge van die jeug ondersoek bespreek. Organiseerders van die Jeugraad bied talle jeug leidingsprojekte regoor Suid-Afrika aan. As gevolg van ‘n besondere behoefte wat ontstaan het, het die Jeugraad, weer eens onder leiding van prof, J.E. Pieterse as voorsitter, die publikasies Fokus in 1977 uitgegee. Fokus bevat onderwerpe wat riglyne vir bespreking by jeug leiers-kursusse en –konferensies bied. ‘n Behoefte aan gespesialiseerde opleiding aan belangstellendes van Afrikaanse kultuurorganisasies het tot opleidingskursusse in seminaar bestuur gelei. Gevorderde kursusse in seminaar bestuur is van 1978 vir dieselfde teikengehoor gereël. Om Jeug opleidingsprojekte in die algemeen te koördineer, het die Jeugraad begin om Advieskomitees binne bepaalde streke saam te stel. Lede van Advieskomitees verteenwoordig verskillende Afrikaner kultuurorganisasies en sodoende word oorkoepelend aan die ontwerp van talle projekte gewerk. Die Jeugraad word tweejaarliks deur die Hoofbestuur van die FAK saamgestel.

No comments: