2008/04/05

1952: 5 April Geskiedenis Spoor Vandag : Brandpunt van die Afrikaanse Kultuurlewe tot Uhuru


1952
Van Riebeeckskoolkoshuis (Thomsons Falls, Kenia) amptelik ingewy

Die Afrikaner het gelukkig nog altyd die hoogste premie geplaas op godsdiens en onderwys in sy persoonlike en volkslewe. Met die vestiging van Afrikanergemeenskappe buite ons landsgrense is hierdie tradisie in talle wêrelddele gehandhaaf. So ook in Oos-Afrika. In Tanganjika (Tanzanië) het mnre. Gert de Beer, J.F. van Wyk, H.J.C. Pieterse en andere, groot pionierswerk op onderwysgebied in belang van die Afrikanerkind verrig. In Nairobi, Kenia, was mnr. P.G. Nel die eerste (en laaste) Afrikaansonderwyser aan die Engelse hoërskool in Nairobi (1950 – 1954). In 1946 is besluit om ‘n Afrikaanse skool op Thomson Falls te bou. In 1947 is uitvoering aan hierdie besluit gegee met die opening van ‘n beskeie skooltjie op Ol Joro Orok, by Thomsons Falls, met “meester” J. van der Wethuizen as hoof. In 1948 het die NG Sinode (Suid-Afrika) R30 000 (£15 000) vir ‘n Afrikaanse skool en koshuis op Thomsons Falls bewillig. Die dryfkrag en besieling agter hierdie grootse kultuuraksie in die vreemde was wyle ds. J.H. (Hoffie) Louw, leraar van daardie gemeenskap. In 1950 is die boukontrak (R33 000) vir die koshuise geteken. In 1951 het die leerlinge van die Ol Joro-skooltjie ‘n toer deur die destydse Unie onderneem om geld vir die nuwe skool in te samel; 16 000 km is afgelê, 40 konserte is aangebied en R5 000 is ingesamel. Op 5 April 1952 is die koshuis amptelik in gebruik geneem deur brig. Campbell Ross, SA se Hoë kommissaris in Nairobi, terwyl die hoeksteen van die Van Riebeeckskool op Thomsons Falls deur die NG Kerk-moderator, ds. C.B. Brink, gelê is. Teen 1958 was die skool feitlik voltooi. Die argiefstukke vermeld ‘n personeel van nege met oor die honderd leerlinge. Merkwaardig hier is die groot materiële offers wat die Afrikaanse gemeenskap vir die verwesenliking van hulle ideaal gebring het. Die Van Riebeeckskool, saam met die nuwe kerk, was ‘n manifestasie van hulle kulturele belydenis. Op 6 April 1960 is die skool amptelik ingewy deur ds. A.F. Louw, van Bothashof, Salisbury. Die Van Riebeeckskool het die brandpunt van die Afrikaanse Kultuurlewe gebly tot Uhuru. As gevolg van massale emigrasie van Afrikaners is die skool in 1963 aan ‘n Amerikaanse Sendinggenootskap verkoop. Dit was die einde van nog ‘n epog in die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Met dankbaarheid kan gemeld word dat oudleerlinge van die Van Riebeeckskool, Thomsons Falls, reeds ‘n groot bydrae tot die kulturele en ekonomiese lewe in die RSA gelewer het. aka fak P.G.N

Meer oor die Boere Leier trek na Kenia 1908
http://www.geocities.com/Athens/Rhodes/1266/historical-Kenya.htm

No comments: