2008/04/04

1905: 4 April Geskiedenis Spoor Vandag : SAOU


1905
SAOU gestig


Gedurende die laaste dekades van die 19de eeu is daar aan die Kaap ‘n taalstryd gevoer – aan die eenkant die stryd van die Afrikanervolk vir gelyke regte van die volkstaal met die van Engels en aan die anderkant die stryd onder Afrikaner taalmanne oor wat die voertaal moet wees: Patriot-Afrikaans soos voorgestaan deur die Genootskap van Regte Afrikaners of Nederlands. In 1819 kom dr. Kollewijn in Holland met die voorstel dat Nederlands vereenvoudig moet word en hier te lande vind die gedagte ‘n ywerige dissipel in dr. W.J. Viljoen van die destydse Victorie Kollege en later Superintendent-Generaal van Onderwys in Kaapland. Op Dinsdag 4 April 1905, om 10h00 kom 56 persone byeen in die saal van die Hugenote-gebou in Kaapstad. Die doel van die vergadering was om die vereenvoudiging van Nederlands te bespreek sowel as “Andere punten van belang”. Uit hierdie “andere punten van belang” is die SAOU gebore, want op voorstel van ds. F.S. du Toit gaan die vergadering gedurende die middag oor tot die stigting van De Suid-Afrikaanse Onderwyzerunie. Die stigting van die SAOU moet egter nie gesien word as ‘n impulsiewe daad of as ‘n neweproduk van die Vergadering van Taalvereenvoudiging nie. Na die Engelse Oorlog wou die Afrikaner-onderwyser sy hande los hê, nie alleen om te werk vir die opheffing van die verwaarloosde Afrikanerkind nie, maar ook om gelyke regte en status vir die Afrikaner-onderwyser te verwerf. Die belangrikste werksaamhede van die SAOU is advies aan lede in verband met omstandighede wat voortvloei uit hul diensvoorwaardes en diens omstandighede; skakeling met die Onderwysowerhede ten behoewe van Onderwysers; skakeling met die Kaaplandse Onderwysdepartement oor Opvoedkundige aangeleenthede; ‘n wakende oog te hou oor die onderwys in die algemeen en behartig partikuliere onderwyssake;

behartiging van die Afrikaanse onderwyser se belange in die besonder. FAK

No comments: