2008/04/24

1905 : 24 April Geskiedenis Spoor Vandag : Moedertaal basis van Onderwys en Opvoeding


24 April
1905
Adv. G.F. de V.Hugo gebore


Gabriel Francois de Vos Hugo is op Ceres gebore. Sy skoolopleiding het hy aan die Hoër Seunskool op Worcester ontvang, waarna hy sy studie aan die Universiteit van Stellenbosch voortgesit het. In 1925 verwerf hy die BA-graad en deur middel van private studie behaal hy in 1932 die graad LL.B. aan die Universiteit van Suid-Afrika. Na die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948 word adv. Hugo in die Adviserende Raad vir Grondbesit aangestel. In hierdie hoedanigheid word hy deur dr. T.E. Dönges in twee komitees benoem ten einde kort- en langtermyn wysigings van die betrokke wet voor te stel.

Teen die einde van 1950 is adv. Hugo as ondervoorsitter van die Groepsgebiede raad aangestel. In hierdie hoedanigheid het hy ‘n besondere bydrae tot die daarstelling van die Groepsgebiede-Ontwikkelings wet gelewer. In 1959 keer adv. Hugo na die regsberoep terug en wel as tweede regter van die Griekwaland-Wes-afdeling van die Hooggeregshof van Kaapland.

In 1969 word die Noord-Kaapse-afdeling as onafhanklike afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika ingestel met adv. Hugo as eerste regterpresident. Hy beklee hierdie pos tot 1973, toe hy om gesondheidsredes moet aftree. Op kultuurgebied was adv. Hugo ook besonder aktief. So was hy onder meer regsadviseur van die NG Kerk in Transvaal, lid van die Kruger genootskap, lid van die Randse Armesorg raad en lid van die Sinodale Kommissie vir die bestryding van Sosiale Euwels.

Dit was egter op die gebied van Christelik-nasionale onderwys dat adv. Hugo ‘n besondere bydrae gelewer het. By die FAK se Volkskongres oor Christelik-nasionale Onderwys in Bloemfontein op 6 en 7 Julie 1939 is ‘n Instituut vir Opvoeding en Onderwys daargestel. Prof. J.C. van Rooy is as eerste voorsitter gekies, maar vanaf 1945 het adv. Hugo aktief by die taalstryd op onderwysvlak in Natal betrokke geraak.

So het die Instituut in 1945 in samewerking met die Natalse Aksiekomitee ‘n CNO-beleid vir Suid-Afrika, wat na deeglike navorsing in Februarie 1948 gepubliseer is. Hiervolgens is onder meer bepaal “dat die moedertaal die basis van alle onderwys en opvoeding is en dat die moedertaal die belangrikste sekulêre vak op skool moet wees”. Hy was ook lid van die FAK se Uitvoerende Komitee. INEG

No comments: