2008/04/24

1533 : 24 April Geskiedenis Spoor Vandag : “Vader des Vaderlands”

24 April
1533
Prins Willem van Oranje gebore


Prins Willem van Oranje (ook soms genoem “Willem de Zwijger” en “Vader des Vaderlands”) is in Dillenburg (Wes-Duitsland) in die beroemde kasteel van die Grawe van Nassau gebore. Sy ouers, Juliana van Stolberg en graaf Wilhelm van Nassau-Dillenburg, was oortuigde aanhangers van die Her vorming, wat reeds sedert 1517 sy invloed op die geestelike, politieke en staatkundige lewe van We-Europa laat geld het.

Willem was die oudste seun en het in die magtige keiser Karel V (van Spanje) se guns gestaan, ten gevolge waarvan die toekomstige jong prins in die keiserlike kring opgeneem en teen sy ouers se sin Rooms-Katoliek opgevoed is. Op jeugdige leeftyd erf hy die prinsdom Oranje, word prins Willem van Oranje en in 1555 stadhouer (verteenwoordiger van die keiser) van die provinsies Holland, Seeland en Utrecht.

Tien jaar later word Karel V deur sy seun Filips II, ‘n fanatiese Spaanse Rooms-Katoliek, opgevolg, wat spoedig maatreëls deurgevoer het ter onderdrukking van godsdienstige en burgerlike vryhede van die Protestante. Prins Willem se verset daarteen was die begin van ‘n moeisame stryd waarin hy Nederland se bevryder sou word. Hy lei die protes van die Nederlandse edeles en word die siel van die verset teen die diktatoriale onderdrukking uit Spanje.

Die gewapende stryd het in 1568 begin en geduur tot 1648. Prins Willem het nou ‘n oortuigde Calvinis geword, die meeste van sy kosbare skatte verkoop of verpand om geld te kry vir die stryd teen Spanje tot die dood toe. Spanje plaas ‘n prys van 25 000 goue krone op sy hoof. Hy oorleef talle aanslae, dog op 10 Julie 1584 skiet ‘n Spaanse huursoldaat, Balthazar Gerards, hom verraderlik dood.

Die laaste woorde van prins Willem was: “Ag, Heer, wees my siel genadig en beskerm my arme volk!” Prins Willem van Oranje het nie vrugteloos gesterf nie. Die stryd wat hy begin het, het die weg gebaan vir die uiteindelike vryheid van die Nederlandse volk, hulle godsdiensvryheid en staatkundige soewereiniteit.

Hy het die stryd gevoer in ‘n gees van hoë en milde verdraagsaamheid en aan die Nederlandse volk ‘n kosbare geestelike en kulturele erfenis nagelaat. Nie net aan Nederland nie, maar ook aan die Westerse kultuur en deur Jan van Riebeeck aan die Afrikaanse volk, wat vandag nog die Protestants-Calvinistiese grondslae nastrewe waarvoor prins Willem van Oranje gestry, gely en gesterf het. P.G.N

No comments: