2008/04/11

1902: 11 April Geskiedenis Spoor Vandag : Roodewal


11 April
1902
Slag by Roodewal


Nadat genl.. J.H. de la Rey reeds na Klerksdorp vertrek het om aan die voorlopige vredesonderhandeling deel te neem, het genl.. J.C.G. Kemp, wat hy in bevel gelaat het, besluit om die Britse kamp by Roodewal aan die Brakrivier aan te val, veral om die doelgerigte Britse pogings om De la Rey se magte in Wes-Transvaal vas te trek, ‘n knou toe te dien. Met sowat 2 600 burgers, verdeel onder genls. Liebenberg en Celliers en kmdt.. Potgieter, is die sowat 11 000 Britse troepe op heldhaftige wyse bestorm. In die vroeë oggendure het die Engelse aanvanklik die stormloop vir ‘n deel van hul eie magte aangesien. In werklikheid was dit kmdt.. F.J. Potgieter, die dapper en onverskrokke aanvoerder, se 800 man wat met doodsveragting op hul afgestorm het. Sommige het tot sowat 70 treë van die Britse bajonette gevorder en 50 gesneuweldes, onder wie Potgieter, en 30 swaar gewondes agtergelaat. Vanweë die geweldige oormag, moes Kemp die aanval op die uitgestrekte Britse linies afgelas en self sy magte in twee verdeel om die Britse teenaanval en agtervolging te ontkom. Daarmee was die laaste groot slag van die Engelse Oorlog afgeloop en die verliese wat die Boere gely het, het gewis ook ‘n neerdrukkende uitwerking op die gedagte van die voortsetting van die oorlog by die vredesonderhandelinge gehad. Aka fak M.C.E.v.S

No comments: