2008/04/09

1860: 9 April Geskiedenis Spoor Vandag : Emily Hobhouse


1860
Emily Hobhouse gebore

Emily Hobhouse is op Liskeard in Cornwallis, Engeland, gebore. As pastorie dogter het sy haar sieklike vader pligsgetrou versorg en ‘n leidende aandeel in gemeentewerk geneem. Sodoende het sy die skadukant van die maatskaplike lewe leer ken en is die weg gebaan tot die opheffingswerk wat sy later in Suid-Afrika sou doen. Vir haar as oortuigde pasifis, het die oorlog teen die Boere-republieke haar van meet af aan teen die bors gestuit en het die Konsentrasiekampbeleid van die Britse militêre owerheid in Suid-Afrika haar met weersin vervul. Enersyds het sy haar verontwaardiging openlik in toesprake, brosjures en briewe aan die pers gelug, en andersyds het sy oorgegaan tot die stigting van ‘n noodlenigingsfonds. Met die karige bedrag van R600 op die wyse geïn, is sy persoonlik na Suid-Afrika en het sy ‘n aantal uitgebreide reise deur die oorloggeteisterde gebied onderneem, ten einde eerstehandse inligting oor die toestand in die Konsentrasiekampe in te win en terselfdertyd persoonlik noodlenigings werk te doen. Op die wyse word sy vir die Boerevrou en –kind die verpersoonliking van ware menslikheid en mensliewendheid te midde van oorlog smart en –onreg. Terug in Engeland het sy die Britse owerheid meedoënloos in die pers aangeval en op die wyse soveel druk uitgeoefen dat grootskaalse verbeteringe in die kampe teweeggebring is en die sterftesyfer gaandeweg ‘n daling begin toon het. Die owerheid het haar egter hardhandig verhinder om self weer in Kaapstad voet aan wal te sit. Na die oorlog, in 1903, het sy weer persoonlik na die verwoeste Boere-republieke gegaan, ten einde hulp aan die ontredderdes te verleen en opheffingswerk onder die hulpbehoewendes te doen, onder meer deur die aanmoediging van tuisnywerhede en die stigting van weefskole. Sodoende word sy ook die heler van ‘n volk se wonde. Sy is op 8 Junie 1926 in Londen oorlede. Haar as is na Suid-Afrika gebring om aan die voet van die Vrouemonument ‘n laaste rusplek te vind. Op 27 Oktober 1926 het die Afrikanervolk op gepaste wyse aan hierdie weldoenster hulde gebring. Dr. J.D. Kestell het ‘n indrukwekkende roudiens in die tweetoringkerk gelei, ses Afrikaner dogters met die naam Emily Hobhouse het as draers opgetree. Honderde skooldogters met ‘n wit palmtak in die hand, het aan die optog deelgeneem. Afrikanerleiers en-leidsters van alle vlakke van die Afrikaner volkslewe het aan ‘n heldin hulde kom bewys. aka fak J.D.K

No comments: