2008/04/13

1688 : 13 April Geskiedenis Spoor Vandag : Voorschoten


13 April
1688
Eerste Hugenote land met die Voorschoten aan die Kaap


Vir die klein Kaapse nedersetting was die jaar 1688 van groot betekenis. Met die koms van die Franse vlugtelinge is die geledere van die koloniste versterk en het die Calvinistiese godsdiens ‘n vêrdere versterking en stukrag ondergaan. Die Hugenote het hulle vaderland in 1685 verlaat nadat die Edik van Nantes herroep is en hulle aan meedoënlose vervolging, vernietiging van hul kerke ens. Blootgestel was. Die bewindhebbers van die VOC het van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n aantal van hierdie Protestantse vlugtelinge na die yl bewoonde Kaapkolonie te stuur. As vlugtelinge was die Hugenote vanselfsprekend brandarm, en slegs deur geloof, deursettingsvermoë en onvermoeide ywer het hulle die eerste moeilike jare oorleef. In die vallei van die Bergrivier het hulle hul gevestig, veral in die boloop van die rivier, in die “Fransche Hoek”. Die Hugenote was soos die Hollandse koloniste Calviniste, maar in sterker graad. Frankryk was immers die land van oorsprong van die Calvinisme, waarvoor die Hugenote bereid was om soveel op te offer. Waar die Calvinisme in Nederland ‘n onskatbare aandeel gehad het in die geloofskrag, moed, vertroue en standvastigheid van sy mense, het die Hugenote hierdie eienskappe aan die Kaap onteenseglik versterk. Die godsvertroue in ‘n almagtige en liefdevolle Vader, wat ‘n wesenskenmerk van die Afrikaner se geloof vorm, het dus hier sy beslag gekry. Die Hugenote het sekere karaktertrekke van die Nederlander aan die Kaap versterk. Hulle was gesteld op godsdienstige, maatskaplike, politieke en persoonlike vryheid. Geen wonder dus dat hulle aangedring het op ‘n eie gemeente, eie predikant en ‘n eie skool nie. Toe goewerneur Simon van der Stel dit weier, is ‘n versoekskrif aan die Here Sewentien gestuur, sodat die Hugenote in 1691 ‘n eie gemeente, Drakenstein, gekry het met ds. Pierre Simond as leraar. Die onderwyser en sieketrooster was Paul Roux. In die stryd teen goewerneur W.A. van der Stel en die uitbuiting van die koloniste deur die hoë amptenare van die VOC, het die Franse hul lot by die van die Hollandse koloniste ingewerp en ‘n hoë mate van sedelike en fisieke moed aan die dag gelê. Ook die praat- en redenaars liefde van die Franse word by die Afrikaner aangetref – vandaar sy voorliefde vir beroepe soos die van advokaat, predikant en politikus. Van die Fransman word gewoonlik gesê dat hy verstandig, nugter en prakties is. Hierdie eienskappe het die Afrikaner-pionier inderdaad goed te pas gekom op die afgesonderde boereplase. Hoewel nie van adellike herkoms nie, was die Hugenote afkomstig uit die beskaafde burgery, bekend vir hulle hoflike maniere. Die omgewing waar die Hugenote hulle gevestig het, het bekend geword vir die wellewendheid, statige huise en meubels en smaakvolle kleredrag van die bewoners. Op stoflike gebied het die Franse se kennis van die wyn- en brandewyn makery, vrugtekwekery en verskeie ambagte die Kaap tot groot voordeel gestrek. Vandag staan daar in Franschhoek die indrukwekkende Hugenotemonument ter ere van ons Hugenote-stamouers en hulle aandeel in die volkswording van die Afrikaner. Aka fak J.C.P

No comments: