2008/04/18

1521 : 18 April Geskiedenis Spoor Vandag : Kerk Hervorming


18April
1521
Luther voor die Ryksdag van Worms


Martin Luther gee beslag aan ‘n nuwe bedeling in die Westerse Kerk en samelewing. Hy hervorm dit in die lig van die Skrif, wat hy as die enigste gesaghebbende openbaring van God aanvaar. Hierdie oorlewering in die Kerk en sy geskiedenis maak hy weer beslissend en kom in botsing met die oorlewering waarin die Pous vanuit Rome beslissend optree. Op 18 April 1521 vel hy die beslissing voor die Ryksdag van Worms. Daar verskyn hy op las van die Pous voor die pas verkose keiser. Op weg is hy afgeraai om voort te gaan, terwyl die pouslike gesant op verskeie plekke sy boeke laat verbrand het om hom af te skrik. “Ek sal na Worms gaan,” het hy volgehou, “al is daar ook soveel duiwels soos die dakpanne op die geboue!” So staan hy op 17 April 1521 tereg in die oortuiging dat dit om Christus gaan, om die heil van die mens en die hoogste goed op aarde, om God se Woord. Toe die pouslike gesant van hom eis om sy geskrifte sonder meer te herroep, vra hy tyd om daaroor te dink en te bid. Die volgende aand om sesuur antwoord hy in die lig van brandende fakkels, eers in die taal van sy moeder, die volk, Duits; toe in die taal waaraan die Kerk vasgehou het om alle gelowiges sakramenteel te bedien, Latyn. Soos dit ‘n Christen betaam, bely hy en vra om verskoning oor persoonlike belediging in die werke wat hy gerig het teen bepaalde persone wat die Roomse tirannie verdedig. Bewus daarvan dat ‘n mens kan dwaal, is hy bereid om sy opvattings oor die leer van Christus te laat toets. Maar dan moet dit uit die Woord van God geskied, want, so kom hy daartoe om te sê: “Deur die Woorde van die Skrif waarna ek verwys, is ek gebind in my gewete en gevange in die Woorde van God.” Hy waarsku die jong keiser om nie sy regering met ‘n onregverdige daad te begin nie, want dan sal God hom tot ‘n val bring. In die rumoer wat losbars, word beweer dat hy sou afgesluit het asof hy gepreek het: “God help my, amen.” Die groot woord was uitgespreek. ‘n Hervorming van die Kerk en samelewing volgens die Skrif kon nie gestuit word nie. Johannes Calvyn het daarin opgegaan. Nederland het sy gereformeerde of skriftuurlike benadering nagevolg en in ‘n stryd van 80 jaar onafhanklik geword. Sy nedersetting aan die Kaap het op sy eie ‘n inkleding daarvan in die kerk en volk gegee. God se Woord is vertaal in die Afrikaanse taal en is voorgehou as die enigste toetssteen vir kerk en staat. E.B.

No comments: