2008/03/26

Maart 26 Geskiedenis Vandag 1861, 1842, 1856, 1965 History Today March 26,


1861
Teregstelling van Hans Dons


In Ladysmith, vandag 26 Maart 1861 in die verlede het die openbare teregstelling van Johannes Hendrik de Lange, by sy vriende bekend as Hans Dons, hier plaasgevind onder omstandighede wat die gedagtes teruggevoer het na Slagtersnek. Die waardige gedrag van die dappere grysaard het almal met agting vervul.


Hans Dons wat bekend was vanweë sy opoffering en moed tydens die veldtogte onder Uys en Pretorius teen die Zoeloes, is op 27 Februarie aangekla van moord op die naturel Ncatya. Die treurspel het op 1 Desember plaasgevind, toe Hans Dons se geweer tydens ‘n stoeiery met Ncatya, afgegaan het. Vyf naturelle was die enigste getuies en hul getuienis was baie teenstrydig. Hans Dons se bejaarde eggenote Catrina het gepleit om versagting van die straf, maar die Uitvoerende Raad in Natal het op voorstel van Theophilus Shepstone eenparig besluit dat die vonnis voltrek moet word. Op 7 Maart is hierdie besluit deur luitenant-goewerneur Scott bekragtig en vandag is dit voltrek.


1842
Eerste gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk in
Transvaal gestig

Op hierdie dag het ds. Daniël Lindley wat deur die Voortrekker-Volksraad in Natal as predikant van die onafhanklike Voortrekkerkerk aangestel is, sy eerste godsdiensoefening in Potchefstroom gehou. By die geleentheid het hy die sewe kerkraadslede, wat op 23 Februarie deur die Volksraad goedgekeur is, in hulle ampte bevestig. Dit kan as die stigtingsdatum van die eerste gemeente in Transvaal beskou word en die begin van die georganiseerde kerklike lewe aldaar. Hierdie eerste kerkraad het bestaan uit die ouderlinge F.G. Wolmarans en P.J. van Staden en die diakens P.F. Strydom, P. du Preez, G. Maree en S.P. Viljoen. By die godsdiensoefeninge is vir die eerste maal in Transvaal die Nagmaal bedien, terwyl 189 kinders gedoop is en 103 lidmate belydenis van geloof afgelê het. Die gemeente Potchefstroom het aanvanklik die hele Voortrekker gebied noord van die Vaalrivier omvat. Uit hierdie gemeente het die ander gemeentes voortgekom wat in 1853 sinodaal saamgesnoer is deur die eerste Algemene Kerkvergadering van die Ned. Hervormde Kerk. Aka fak A.D.P

1856
C.W.H. van der Post gebore

Christiaan Willem Hendrik van der Post is in Leiden, Nederland, gebore. Hy kom as driejarige saam met sy ouers in 1859 na SA. As gevolg van sy vader se sieklikheid moes Christiaan op vyftienjarige ouderdom na drie maande formele skoolopleiding in 1871 begin werk. Sy ouers se onderrig stel hom in staat om as private onderwyser te begin werk. Hy studeer intussen en behaal sy onderwyssertifikaat, waarna hy as onderwyser na Philippolis, OVS, vertrek. Na ‘n aantal jare as onderwyser aan Grey-Kollege lê hy hom in 1881 op die regte toe en vestig hom as vennoot in ‘n groot regspraktyk op Fauresmith. In 1885 trou hy met Johanna Lubbe, en hy word in 1887 gekies tot lid van die Volksraad van die OVS. Hy tree op as konsul vir Nederland, ‘n pos wat hy in die oorlog verruil vir ‘n kommandantskap. Hy word gevange geneem en vertrek op parool na die Kaapkolonie. In 1906 vestig Van der Post hom weer op Philippolis sonder om die Eed van Getrouheid af te lê en verteenwoordig Philippolis van 1907 tot 1910 in die Parlement. Na Uniewording onttrek hy hom aan die politiek. Uit sy pen kom Piet Uys en Ignas Prinsloo en ook talle gedigte en vertalings uit Engels. Aka fak P.G.N

1965
Emile Hullebroeck oorlede

Die Vlaamse orrelis, koorleier, komponis en sanger, Emile Hullebroeck, is op 20 Februarie 1878 in Gentbrugge in Vlaandere gebore en het ‘n besondere geneentheid teenoor die Afrikaner geopenbaar. Hy het Suid-Afrika in 1920 besoek, liederaande landwyd gehou, en daarna veel gedoen om die bande tussen Vlaandere en Suid-Afrika nouer te trek. Bekende Afrikaanse liedjies soos Lamtietie, damtietie; Trou, Vryheidslied, Grietjie en Die studentejare gaan verby, is van sy toonsettings. FAK