2008/03/01

Maart 1

1803
Kaap aan Bataafse Republiek teruggegee


Kommissaris J.A. de Mist (1749 – 1823) het op hierdie dag, in opdrag van die Bataafse regering van Nederland, vir J.W. Jansens as goewerneur, en die Politieke Raad en Raad van Justisie as belangrikste gesagsliggame van die Kaapkolonie ingestel, nadat die eerste Britse bestuurstyd (1795 – 1803) ten einde geloop het. Daarmee is die weg vir die amptelike toepassing van verligte Bataafse idees aan die Kaap geopen.

1850
Ds. A.P.Kriel gebore

Abraham Paul Kriel, die stigter van die bekende kinderhuis wat vandag sy naam dr, is op die plaas Keerwater, Franschoek, gebore. In 1880 is hy op Stellenbosch gelegitimeer as predikant van die NG Kerk. Veral word hy onthou vir sy belangstelling in die jeug. Reeds in sy eerste gemeente Du Toitspan by die Kimberleyse diamantveld, beywer hy hom veral vir armesorg werk en onder sy leiding koop die kerkraad ‘n huis, wat omgeskep is in ‘n jeugtehuis. Op ‘n besoek aan Europa maak hy kennis met verskeie weesinrigtings. Later soy hy weer sulke besoek reise onderneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog, bevind hy hom in die gemeente Witwatersrand-Wes (Langlaagte) en word hy veldprediker by die Boeremagte. Na die oorlog besluit sy gemeente om ‘n kinderhuis in Langlaagte op te rig vir die kinders van ouers wat op die slagveld of in Konsentrasiekampe oorlede is. Die kinderhuis het aanvanklik geen vaste inkomste gehad nie, maar word in antwoord op die gebede van die stigter en sy personeel steeds van die nodige middele voorsien. Na Kriel se dood op 9 Junie 1928 is die kinderhuis se naam verander in die Abraham Kriel-kinderhuis. Aka fak P.B. v.d.W

1878
A.G.Visser gebore

Andries Gerhardus Visser is in ‘n tent “in die tuin met die groot saffraanpeerboom” om die plaas Zaaifontein in die distrik Frazerburg gebore. Tot sy dertiende jaar bly hierdie later beminde digter en geneesheer in die vrye Karoo-omgewing, waarna hy sy skoolloopbaan as tydgenote van Totius en D.F. Malherbe in die Hugenote-Gedenkskool voortsit. Nadat hy hom as onderwyser bekwaam het, hou hy van 1896 in Carnarvon skool, waar hy op 20-jarige ouderdom hoof van die skool word. Tydens die Engelse Oorlog toon hy openlike simpatie met die Transvaalse burgers en bots met die militêre owerhede op die dorp. Hy bedank uit sy pos en gaan hom bekwaam as medikus in Edinburg, Skotland. By sy terugkeer praktiseer hy aanvanklik op Carnarvon, later op Steytlerville, waar hy Lettie Conradie ontmoet en in 1913 met haar in die eg verbind word. In 1916 vestig hy hom op Heidelberg, Transvaal. Na die dood van sy eerste vrou in 1920 ontmoet hy ‘n jong onderwyseres, Marie de Villiers, in 1923, met wie hy in 1927 in die huwelik tree, ‘n egverbintenis wat nie lank geduur het nie, want Visser sterf skielik aan ‘n hartaanval op 10 Junie 1929. Reeds gedurende sy skooljare het hy gedigte geskryf wat onder die voorletters A.V. of A.G.V. in Ons Kleintji gepubliseer is. Dit was egter na die dood van sy eerste vrou dat hy, onder die aanmoediging van Eugene Marais, hom met erns aan die poësie gewy het. In 1925 verskyn Gedigte, hoofsaaklik minne poësie, patriotiese verse, ligte satire en vrolike verse. Die volk het die toeganklik gevind, en dit beklemtoon die besondere bydra wat Visser as digter gespeel het – om die Afrikanervolk poësie te laat lees. In 1948 is hierdie bundel die sestiende keer herdruk. Voor sy dood verskyn Rose van Herinnering (1927) en na sy dood word Die Purper Iris (1930) en Uit ons prille jeug (1930) gepubliseer. As geneesheer het Visser die harte en vertroue van mense met woord en daad verower en sy opofferende – en dikwels gratis – diens veral in die griepepidemie het bewondering by die gemeenskap afgedwing. Die Hertzogprys is twee keer aan hom toegeken. Dit is uitsonderlik dat ‘n kunstenaar 47 jaar oud word voordat hy in erns begin dig en dan sy belangrikste werk in minder as een jaar tot stand bring. Eugene Marais skryf in sy In Memorium voor in Gedigte:… indien dr. Visser vier jaar vroeër die Ewige Stilte ingegaan het, Suid-Afrika nooit een van sy mees populêre digters sou geken het nie …” aka fak N.J.S

Die Rose van Herinnering

Wees jy, my lied,
Vir my ‘n goue kelk
Waarin met bloesems onverwelk
Die donkerrooie roos van my verdriet
Nog een te kort, te skone uur
Van smartelik’ geluk
-Die tyd ontruk –
-Sal duur.

Wees jy ‘n kostelike vaas waarin
Nog liefd’rik word bewaar
Elk arm’ verwelkte blaar
Deur my weleer geliefkoos en bemin;
Dat wie ook al hierna verby mag gaan,
Blyswymend sal ontwaar
Die soete allegaar
En weet: Hier --- eenmaal --- het ‘n roos gestaan.

Wees jy, my lied, die urn van edelsteen
Waarin die kosb’re as,
Wat eenmaal skoonheid was,
Deur my nog steeds bewaak word en beween
Totdat die bittersoet geheuenis
Van diepe liefde en leed
Vergaan is en vergeet,
En wie die roos bemin het, …. nie meer is.

Wees jy, my lied, ‘n snaar so fyn,
Van louter goud, klinkklaar en rein,
Waarop my dank
Vir elke wonderdag
Van lewe, liefde en lag ---
Die sending en die seëning;
Die rose van herinnering ---
Sal tril en sterwe met jou laaste klank!

1941
Volkspelebeweging gestig


In die begin van 1941 het die Reddingsdaadbond na vore gekom om Volkspele onder sy pas gestigte Afdeling vir Vrye tydsbesteding onder sy vleuels te neem. Dit is toe dat die Uniale Komitee vir Volksang en Volkspele en Provinsiale en Gewestelike Volkspele komitees in die lewe geroep is. Die eerste Uniale Komitee bestaan o.a. uit: dr. S.H. Pellissier (voorsitter); adv J.F. Marais (sekretaris); dr. N. Diederichs (namens die Reddingsdaadbond). Die eerste vergadering is deur dr. S.P. van der Walt geopen. Wat baie interessant en van historiese belang is, is die feit dat die notule van hierdie vergadering deur adv. J.F. Marais geskrywe is op 22 Maart 1941 in die Marshall plein-polisieselle, waar hy destyds aangehou is en daarna na die Interneringskamp op Koffiefontein gestuur is. Die organisasie van die Volkspele beweging het dus in moeilike tye begin, maar met die drie Afrikaanse Kerke verteenwoordig in sy sentrale bestuur, en met die goeie wil en belangstelling van die Afrikanervolk, het hy van krag tot krag gegroei.

No comments: