2008/03/24

Maart 24 Geskiedenis 1823, 1842, 1855, History March 24


1823
J.C. Lotter oorlede


Johannes Casparus Lotter (gebore 1768) was ‘n lid van bekende familie van silwersmede aan die Kaap. Onder die groot aantal sierlike en waardevolle silwervoorwerpe wat hy nagelaat het, is onder andere twee nagmaalbekers in die Groot Kerk, Kaapstad. Dit is sulke kunstenaars wat die Afrikaners se estetiese gevoel bevestig en gevoed het. aka fak J.C.P


1842
Nederlandse skip verhaas Britse anneksasie van
Natal


Die onafhanklike republiek wat die Voortrekkers in Natal gestig het, het kortstondig bestaan. Pas nadat die militêre mag van die Zoeloes gebreek was, het die Trekkers, hulle in ‘n stryd met Brittanje bevind wat die aanwesigheid van die Boere in Natal nie wou duld nie. Na aanvanklike welslae moes die Trekkers, onder aanvoering van Andries Pretorius die stryd ter verdediging van hul staat gewonne gee. Op 15 Julie 1842 het die Trekkers hulle aan Britse gesag onderwerp. By sommige het die hoop egter geleef dat hul Nederlandse stamland ‘n beskermende hand na hulle sou uitsteek. Gerugte van Nederlandse bemoeienis het ontstaan nadat die skip Bracilia op 24 Maart 1842 in Port Natal aangekom het. Aan boord was ene J.A. Smellekamp wat die Trekkers goedgesind was en verwagtinge van Nederlandse ingryping by hulle gewek het. Hierdie gerugte het egter juis Brittanje sneller laat optree. Terwyl hy tevore wars van uitbreiding was, is die anneksasie van Natal eensklaps goedgekeur en het die goewerneur sir George Napier Natal op 12 Mei 1842 by wyse van proklamasie tot Britse kolonie verklaar. ‘n Maand later, op 9 Junie, het Henry Cloete, wat as kommissaris in Natal benoem is, die proklamasie van 12 Mei op ‘n byeenkoms van 400-500 Trekkers in Pietermaritzburg uiteengesit. Dit was ‘n bra stormagtige byeenkoms. Weens weerstand onder ‘n groep Trekkers het dit tot 8 Augustus 1842 gesloer voordat die Volksraad die proklamasie van 12 Mei aanvaar het. Vergeefs die bloed wat aan Trekkerkant vir onafhanklike bestaan gestort is. aka fak A.J.v.W

1855
Olive Schreiner


Olive Emilie Albertina Schreiner is by die sendingstasie Wittebergen, Herschel, gebore. Hierdie mooi en briljante vrou en beroemde skryfster het in haar beste politieke pamflet, An English South African’s view of the situation, aan die vooraand van die Engelse Oorlog elke Britse soldaat gewaarsku: “Hier wag geen louere vir jou nie,” en aan Brittanje profeties dat “die uur van uiterlike welslae die uur van onherroeplike mislukking kan wees.” Oorlede op 11 Desember 1920, in Wynberg, Kaap. Aka fak J.L.H