2008/02/08

Februarie 8

1837
Die Voortrekkers verkies die eerste kerkraad van die onafhanklike Voortrekkerkerk


Nadat die Trekgroep reeds oor die Oranjerivier was, is oorgegaan tot die daarstelling van ‘n amptelike bestuur vir die Voortrekkers. Aangesien die Trekkers besiel was met die gedagte dat “de openbare Godsdienst de eerste grondslag moet zijn waarop een Christelike Maatshappij moet gegrondvest worden”, sou hierdie amptelike bestuur ook ‘n verenigde kerk organisasie veronderstel. So is daar tot die eerste stap van kerklike organisasie gekom toe op ‘n gesamentlike byeenkoms van die Trekkers op hierdie datum ‘n kerkraad gekies is. As ouderling was aangewys Johannes Viljoen. Die amp van ouderling met sy groot aansien, was veral betekenisvol in daardie tyd. Hy moes by afwesigheid van ‘n leraar al die noodsaaklike werk verrig, soos veral sieke en huisbesoeke. Vanweë die onbestendigheid van die Trekkerslewe het hierdie eerste kerkraad blykbaar nooit amptelik vergader nie. aka fak P.B.v.d.W

1860
Pretorius Word President Van Die Vrystaat
Vereniging van Twee Republieke sy Oogmerk
Bloemfontein,
8 Februarie 1860 –

Na die aftrede van president Jacobus Nicolaas Boshof, is op 15 Desember verlede jaar. Marthinus Wessel Pretorius, die president van Transvaal, met ‘n meerderheid van oor die duisend stemme tot president van die Vrystaat verkies. Die Transvaalse Volksraad het op 2 Februarie vanjaar ses maande verlof aan hul president toegestaan en vandag is Pretorius vir onbepaalde tyd ingesweer as president van die Vrystaat.

Voordat hy die eed afgelê het, het hy aan die mense wat voor die raadsaal vergader het, gevra of hulle bereid is om hom in eensgesindheid te help en by te staan. Nadat hy hom van hulle welwillendheid oortuig het, het hy die eed gaan aflê. Die nuwe president het reeds sy voorneme te kenne gegee om so gou as moontlik die vereniging van die Vrystaat en die Transvaal ter sprake te bring. Hy hoop ook om die Vrystaatse grondwet so spoedig moontlik te verander en dit meer met die Transvaalse grondwet in ooreenstemming te bring. Die volk sal egter geraadpleeg moet word oor die wenslikheid om die twee republieke te verenig.


1881
Slag by Skuinshoogte


Een van die skitterendste oorwinnings in die Transvaalse Vryheidsoorlog is op Skuinshoogte deur genl. Nicolaas Smit en sy ongeveer 100 man oor genl. Colley en sy ongeveer 600 man, bygestaan deur ‘n ruitery en vier kanonne, behaal. Die slag het tussen ongeveer 09h00 en 19h00 plaasgevind. Agt Boere is in die slag dood en ‘n paar is gewond. Daarteenoor is daar van Colley se mag, nadat baie lyke in die nag van die koppie af verwyder is, 205 dooies en gewondes die volgende oggend getel. Die Boeremag was gewapen met gewere, ‘n ou koper kanon en ‘n ander ou kanon, waarvan nie een meer as sowat 100 meter ver kon skiet nie. D.E.

1886
Sannie Uys gebore

Sannie Uys was ‘n talentvolle skryfster wat veral die laat negentiende-eeuse lewe in die Swellendamse kontrei in verhale, sketse en radiopraatjies uitgebeeld het. Sy was ook die moeder van die bekende kunstenaars Uys en Francois Krige. Aka fak J.C.P

1921
Algemene verkiesing


Pas nadat ‘n algemene verkiesing op 10 Maart 1920 gehou is, is die kiesers op hierdie datum weer na die stembus. Na 1915 was dit vir premier Louis Both duidelik dat die politiek langs die taalgrens afgeskeur het. Hy was gevolglik verplig om die sterk Britse element van Unioniste onder Thomas Smartt by die Suid-Afrikaanse Party te betrek, ten einde polities te bly regeer. In Augustus 1919 is hy oorlede, en genl.. Smuts, wat tussen 1915 en 1919 jare lank buite die land was, moes as premier oorneem. Sy wêreldwye en veral Londense verbintenis het dit vir hom onmoontlik gemaak om met genl. Hertzog en die Nasionale Party saam te werk. Daarom het hy liewer met die Unioniste saamgewerk. Die uitslag van 1920 het Smuts egter tot die werklikheid geskok. Die Nasionale Party het 44 teenoor die Suid-Afrikaanse Party se 41 setels verower. Die Arbeiders met hulle 21 setels het vêrdere onheil voorspel. Daarom het hy die steun van die Unioniste met hulle 25 setels dringend nodig gehad. Nogtans wou hy polities nie deur ‘n koalisie faktor afgepers word nie. die gevolg was dat hy in November 1920 die Unioniste met die Suid-Afrikaanse Party laat saamsmelt het. Dit sou aan Smuts ‘n sterk party en ‘n sterk regering besorg. Maar daardeur die Afrikaner polities grootliks finaal van Smuts gespeen, want die Unioniste het op streng bande met en onderhorigheid aan Brittanje aangedring. Dit het Smuts gepas, en daarom is hy dadelik weer na die stembus om aan die land, sy vyande en aan die wêreld te bewys dat hy sterk staan. Sy insig was korrek en die vyftigjarige premier Smuts is met ‘n groot meerderheid verkies. Terselfdertyd het die Nasionale Party ook gevorder, en dit het die grondslag gelê om Afrikaner-politici en Engelstalige stedelike arbeids groepe in ‘n span teen genl.. Smuts te organiseer. Die vierde algemene Uniale verkiesing van 8 Februarie 1921 was dus die begin van die politieke triomf van die Hertzog-Afrikaner in 1924. aka fak M.J.S

No comments: