2008/02/04

Februarie 4

1827
W.J. van Gorkum gebore


Willem Johan van Gorkum is in Zutphen, Nederland, gebore. Op uitnodiging van pres. T.F. Burgers kom hy in 1876 in Pretoria aan as eerste Superintendent van Onderwys. In 1878 keer hy na Nederland terug, waar hy op 14 Oktober 1888 in Heusden oorlede is. Sy blywendste bydrae tot die Afrikaanse kultuurerfenis is sy komposisie van die lied ‘n Ieder nasie het sy land. Aka fak dr. P.J. de Beer

1838
Die Retief-Dingaantraktaat


Piet Retief het in November 1837 vir die eerste keer met Dingaan onderhandel oor grondgebied in Natal vir die Voortrekkers. Hoewel Dingaan gewillig was om grond aan die Voortrekkers af te staan, het hy dit as voorwaarde gestel dat Retief die Zoeloes se beeste wat Sikonyela se mense geroof het, moet terugbring. Nadat hierdie taak suksesvol afgehandel was, het Retief en sowat sewentig blankes en dertig gekleurde agterryers op 3 Februarie 1838 weer by Dingaan se hoofkraal Umgungundluvu aangekom. By hom het Retief ‘n traktaat, gedateer 4 Februarie, gehad waarvolgens Dingaan die gebied tussen die Tugela- en Umzimvuburivier aan die Voortrekkers sou afstaan. Hierdie dokument is op 6 Februarie by ‘n afskeidsbyeenkoms in Dingaan se kraal onderteken. Voordat die Voortrekkers, wat hulle wapens buite die kraal moes laat bly, kon vertrek, is hulle op Dingaan se bevel vermoor. Die Traktaat het egter nie verlore gegaan nie. Tien maande later – na die Slag by Bloedrivier – is dit ongeskonde in ‘n leersak by die beendere van Retief teruggevind. Die volgende is ‘n vrye vertaling van die Traktaat, wat in Engels opgestel is:

Aangesien Pieter Retief, goewerneur van die Voortrekkers, my beeste wat deur Sikonyela gesteel is, teruggevind en nou aan my uitgelewer het, stem ek, Dingaan, koning van die Zoeloes, daartoe in om hiermee aan genoemde Retief en sy landgenote Port Natal en die aangrensende gebied in ewigdurende besitreg af te staan, dit wil sê die gebied weswaarts vanaf die Tugela tot by die Umzimvuburivier en vanaf die see noordwaarts tot so ver as wat die grond bruikbaar mag wees en aan my behoort.

Die Engelse weergawe van:
Die Retief-Dingane-Traktaat
Unkuginsloave,
The 4th February 1838.


Know all men by this that Whereas Pieter Retief Governor of the dutch Emigrant Southafrikans has retaken my cattle which Sinkogella had stolen which cattle he the said Retief now deliver unto me. - I Dingaan, King of the Zoolas as here by certify and declare that I thought fit to resign unto him the said Retief and his Countrymen (on reward of the Case hereabove mentioned), the Place called Port Natal together with all the land annexed, that is to say from Dogeela to the Omsoboebo River westward and from the Sea to the North as far as the land may be Usefull and in my possession which I did by this and give unto them for their Everlasting property.

De merk ……….van de Koning Dingaan
Als getuige
M. Oosthuisje
A.C. Greijling
B.F. Liebenberg

Als Getuige
Noena groot raadslid
Fuliwonsa ditto
Manondo ditto


Nota:
Dit is interessant dat Dingane nie bloot met ‘n kruisie geteken het soos gewoonlik verklaar word nie, maar sy “handtekening” is ‘n gekrabbel waarmee hy klaarblyklik skrif probeer naboots het. Die raadslede se name verskyn bloot op die dokument sonder enige teken daarby.


Die oorspronklike traktaat was op blou papier met die watermerk 1830 en donker vlekke wat vermoedelik Piet Retief se bloed was.

Na die ontbinding van die Natalse Volksraad in 1845 is dit mettertyd aan Andries Pretorius oorhandig, wat dit later aan sy seun, M.W. Pretorius, oorgedra het.

Hy het dit op die ou end aan die Transvaalse Staatsargief geskenk waar dit lank tussen ander dokumente gelê het voor diet in 1886 herontdek is. Uiteindelik is dit in die Staatsmuseum saam met Louis Tregardt se Dagboek agter glas bewaar. Met die inbesitname van Pretoria deur Britse magte tydens die Anglo-Boereoorlog in 1900 is dit vermoedelik saam met ander dokumente vir veilige bewaring na Nederland gestuur, maar dit het nooit die bestemming bereik nie.

Daar word beweer dat die weergawe van die traktaat waaroor ons tans beskik, is ‘n sg. Natrek daarvan in 1891 deur Leo Weinthal, hoofredakteur van die Pretoriase blad The Press, met die oog op publikasie.

Die aanleiding hiertoe was die herbegrafnis van Andries Pretorius in Pretoria wat by sy dood in 1853 op sy plaas der Ouden naby Pretoria ter ruste gelê is. Weinthal het later vertel: “Die dokument word destyds bewaar in die tas, waarin ‘t ontdek was op die gebeente van Retief. Na ‘n breedvoerige gedagtewisseling met wyle president Kruger, het S.H.Ed. my toegestaan om ‘n natrek (tracing) van die oorspronklike te maak, en ‘n fotografiese reproduksie daarvan te publiseer in The Press. Die toestand van die oorspronklik was van die aard, dat ‘n regstreekse fotografiese reproduksie daarvan nie molik was nie.” Altesaam 3 000 afdrukke daarvan is wêreldwyd versprei.

‘n Merkwaardige nota omtrent die Retief-Dingane-traktaat het betrekking op die verweerde leersak waarin dit gevind is. By die herontdekking van die traktaat in 1886 is die leersak vernietig.

Rhe Carstens en Pieter W Grobbelaar

Die oorspronklike Traktaat het teen die einde van die vorige eeu verlore geraak, maar noukeurige natreksels en ander afskrifte daarvan het gelukkig behoue gebly. Die egtheid van die Traktaat is trouens in 1923 met behulp van een van hierdie natreksels bo alle twyfel bewys. Aka fak dr. D.J.Kriel

1910
M.U. (Uys) Krige gebore


Mattheüs Uys Krige, gebore op Bontebokskloof by Swellendam, het hom onderskei in al die hoofvorme van die skryfkuns – prosa, poësie, drama. Hy is in 1974 met die Hertzogprys bekroon, benewens vyf maal die Akademieprys vir vertaalde literatuur. FAK

1939
Die Ossewa-Brandwag


Die Ossewa-Brandwag (OB) as kultuurorganisasie is formeel op hierdie dag in Bloemfontein gestig, met kol. J. Laas as leier. Die oogmerk was om die gees van die Ossewa trek van 1938, wat ter herdenking van die Groot Trek ‘n eeu tevore onderneem is en waartydens Afrikaner-nasionalisme ongekende hoogtes bereik het, te bestendig. Die OB het die Unie se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog heftig bestry en sovêr moontlik probeer ontwrig – optredes wat onder andere internering van regeringskant ontlok het. Vanaf 1 Januarie 1941 het dr Hans van Rensburg as Kommandant-generaal die OB-leiding oorgeneem. Die aanvanklike eensgesindheid tussen die OB en die Herenigde Nasionale Party (HNP) het spoedig om besit in ‘n heftige ideologiese stryd oor bepaalde aspekte van die Afrikaner-politiek wat groot verwarring, spanning en stryd in Afrikanergeledere veroorsaak het. Die eens magtige en dinamiese OB het geleidelik begin kwyn. Met uiterste moeite kon via die Afrikaner Party ‘n mate van samewerking tussen die OB en die HNP in die algemene verkiesing van 1948 bereik word, en het die HNP-Afrikaner Party-koalisie van dr. D.F. Malan aan die bewind gekom. Hierna het die OB al hoe verder op die agtergrond geskuif en is die beweging amptelik op 22 Augustus 1952 ontbind. Aka fak P.F. v.d. S

No comments:

Post a Comment