2008/02/03

Februarie 3

1488
Dias land in Mosselbaai


Dias se karvele kon nie deur die sterk suidoostewind vaar nie, en met ‘n roete-aanpassing het hulle om Kaappunt gevaar. Dias se geselskap het of by Visbaai of Mosselbaai hul eerste treë op die suidkus van Afrika gegee. Hier het die eerste skermutseling tussen Westerling en die Hottentotte plaasgevind. Daarna het die twee skepe verder in ‘n oostelike rigting gevaar tot by die Bahia da Lagoa (lagune), die baai wat nou Algoabaai heet. Hier wou Dias se matrose omdraai, maar Dias het hulle oortuig om nog verder te vaar. By die Infanterivier (of Groot Visrivier, of Kowie- of Keiskammarivier) het hierdie ekspedisie omgedraai met die wete dat hulle die vernaamste versperring op die seeweg na die ryk Ooste baasgeraak het. Op hulle terugreis het hulle op verskillende plekke ‘n padrao of klipkruis opgerig. Die oudste teken van die Europese aanraking met Suid-Afrika is by Kwaaihoek, wes van die Boesmansriviermond, in 1938 ontdek. Aka fak prof. P.J. van der Merwe

1848
Transgariep tot Britse gebied verklaar


In die begin van die negentiende eeu was die streek tussen die Oranje- en Vaalrivier, Transgariep, met uitsondering van klein klompies Boesman jagters, vir die allergrootste gedeelte onbewoon. Geleidelik het stamme soos die Korannas in die weste, die Griekwas in die suidweste en die Bantoe in die ooste die gebied binnegedring, terwyl die Barolong en ander kleiner stamme hul in die middel gevestig het. Sendelinge het hul onder hierdie inboorlinge begin vestig en aansprake op grondgebiede gesteun wat nooit op enige tydstip bewoon is nie. Sedert die begin van die twintigerjare het Kaapse veeboere, vanweë droogtes en sprinkane, seisoen migrasies na die onbewoonde suidelike dele van Transgariep onderneem, maar vanweë veeverliese met die heen-en-weer-trekkery oor die Grootrivier, het hulle hul teen die dertigerjare permanent in die gebied gevestig – en om praktiese redes hul steeds as troue Britse onderdane beskou. Hoewel die uiteindelike einddoel van die Groot Trek Natal en Transvaal was, het heelwat Trekkers hul sedert 1836 in die omgewing van Winburg gevestig, terwyl ‘n klompie Natalse Trekkers onder kmdte. J.G. Mocke en J.L. de Kock sou terugkeer en hul aan die Modder- en Vetrivier as vurige republikeine sou vestig. Aanvanklik wou die Vrystaatse Trekkers met die Republiek Natalia verenig, maar na die anneksasie van Natal wou hulle die hele gebied vanaf die Grootrivier met die van Potchefstroom verenig. Die leier van die lojale veeboere, M.A. Oberholster, wat met die Griekwa-kaptein, Adam Kok, in 1840 ‘n ooreenkoms aangegaan het om op ‘n deel van sy gebied te woon, is egter deur die republikeine gerepudieer. Regter Menzies probeer die geskil oplos deur die hele gebied in 1842 tot aan die 25ste breedtegraad vir Brittanje te annekseer. Die Britse owerheid wou nie sy gesag uitbrei nie, en die stap is afgekeur. Om direkte betrokkenheid te voorkom, sluit goew. Napier eensydige verdrae met Adam Kok en Mosjesj, wat enige blanke aanspraak op Transgariep ontken. Toe Kok sy gesag wou laat geld, lei dit tot moeilikhede met die blankes en uiteindelik ‘n gewapende botsing met die Britse troepe by Swartkoppies in 1845. Goew. Maitland sou hierna die Griekwa-grond in vervreembare en onvervreembare streke verdeel en ‘n Britse resident, maj. H.D. Warden, in die gebied aanstel om die vrede te bewaar. Die republikeine noord van die Vetrivier het sy gesag by Bloemfontein uitgedaag, en toe hy nie in staat was om die botsende belange en aansprake van die Griekwas, Bantoe en blankes te versoen nie, het goew. Sir Harry Smith op 3 Februarie 1848 die hele Transgariep tot Britse gebied verklaar. Aka fak prof. dr. M.C.E.van Schoor

1868
J.S.M. Rabie gebore

Johannes Stephanus Marais Rabie is op die plaas Groenkloof, distrik Fauresmith, gebore. Hy studeer op Stellenbosch, Cambridge en Bonn en het as joernalis en later redakteur van De Natalse Afrikaner belangrike baanbrekerswerk vir Afrikaans in Natal gedoen, deurdat hy vroeg reeds die waarde van Afrikaans bo Nederlands ingesien en hom beywer het om Afrikaans as joernalistiek taal te vestig. Hy is op 31 Desember 1939 in Bloemfontein oorlede. Aka fak prof. dr. P.G.Nel

No comments:

Post a Comment