2008/02/22

Februarie 22

1707
Stryd teen W.A. van der Stel gewen


Die inwoners van Stellenbosch is in die nag van 22 Februarie 1707 uit hul slaap gewek deur ‘n jong man wat te perd deur die stil strate gejaag en die lug laat weergalm het met die kreet “Victorie, Victorie!” Die gerug het die burgers bereik dat hulle die stryd teen die omstrede goew. W.A. van der Stel en die hoë amptenare gewen het, en dat die goewerneur uit die Kaapkolonie verban is. Dit was inderdaad die geval, en hierna moes verskeie hoë amptenare die Kaap verlaat. Hulle vroeëre beleid het nietemin daartoe help lei dat al hoe meer burgers algaande die binneland ingetrek en sodoende die onbekende oopgestel eh hulle gevolglik daar gevestig het. Die owerheid moes telkens agterna beweeg en het daardeur die proses eerder verhaas as vertraag. Aka fak J.C.P

1707
Hendirk Bibault:
“Ik ben een Africaander”


Die oorwinning oor Van der Stel het nie sonder uitbundige vreugde gepaard gegaan nie. Vier jong mans van Stellenbosch het te perd deur die strate van die dorp gejaag en onder die invloed van drank by die meule moles gemaak deur die graan bakke rond te gooi en die meulenaar uit te skel. Landdros Starrenburg, wat op die lawaai afgekom het, het twee van die jong mans met ‘n rottang bygekom, waarop een, Hendrik Bibault, geskreeu het: “Ik wil niet loopen, k’ben een Africaander.” Hier gebruik Bibault die woord “Afrikaner” in die sin van ‘n persoon wat in Suid-Afrika gebore is, in teenstelling met die Hollanders en Franse wat van oorsee kom. Biblaut maak onderskeid tussen, aan die een kant, die emigrante en VOC-amptenare van wie Starrenburg een was) wat slegs tydelik aan die Kaap gestasioneer was, en aan die ander kant hjyself en ander Suid-Afrikaansgeborenes wat Suid-Afrika as hul enigste vaderland ken en aanneem. Hierdie gevoel van andersoortigheid, van verbondenheid aan hierdie aarde as vaderland dui op ‘n ontwakende identiteitsbewussyn en sou later lei tot die ontstaan van ‘n eie identiteit en nasionale ontwaking by die Afrikaner. Aka fak P.G.N

No comments: