2008/02/02

Februarie 2

1659
Eerste wyn aan die Kaap gepars


Die eerste wynoes aan die Kaap, wat op hierdie dag deur Van Riebeeck onderneem is, was beskeie en het slegs twaalf mengele (ongeveer 14 liter) mos opgelewer.

1787
Charles Etienne Boniface gebore


Hy is in Parys, Frankryk, gebore, maar verlaat die land tydens die Franse Revolusie en kom in 1807 na vele omswerwinge in Kaapstad aan. Hier het hy hom by die Franse toneelgeselskap aangesluit.

Hy was egter dikwels in een of ander vorm van onenigheid betrokke wat later tot sy ondergang sou lei. In 1844 vertrek hy saam met die drukker C.Moll na Durban en rig ‘n weekblad in Pietermaritzburg op. Hy lewer joernalistieke bydraes in Durban en talle skimpskrifte het uit sy pen gekom, waarvan baie as venynig en beledigend beskou was.

As toneelmeester het hy baie jare ‘n leidende rol gespeel en het ook ‘n goeie musiekkennis gehad wat hy dikwels in sy toneelopvoerings met welslae aangewend het. Sy grootse triomf as satiriese skrywer was sy blyspel in vier bedrywe: De Nieuwe ridderorde, of de temperantisten (1832). De Temperantisten was die eerste gepubliseerde en ook oudste bestaande oorspronklike drama in Suid-Afrika. Die bewering word gemaak dat hy daarmee ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het. Hy is op 2 Desember 1853 in Durban oorlede.

1864
Jan Hendrik Brand ingesweer as president van die Oranje-Vrystaat


Op 2 Februarie 1864 is advokaat Jan Hendrik Brand, seun van die bekende Speaker van die Kaapse parlement, plegtig in Bloemfontein ingesweer as president van die Oranje-Vrystaat. Die verkiesings het op 5 November plaasgevind toe Brand met 2,276 stemme verkies is terwyl die ander kandidate J.J. Venter 904, Bowker 243 en Allison 27 stemme gekry het. Nadat Marthinus Wessel Pretorius in April verlede jaar bedank het, is die bestuur van die Republiek sewe maande waargeneem deur Jacobus Johannes Venter. Die nuwe president besef dat sy eerste taak sal wees om die moeilikhede met Mosjesj uit die weg te ruim.

1882
Bosman de Ravelli gebore


Jan Gysbert Hugo Bosman het hom in Leipzig as pianis bekwaam en het onder die skuilnaam Bosman de Ravelli reeds voor 1910 konsertreise deur ons land onderneem. Hy het in 1908 van die heel eerste Afrikaanse kunsliedere gekomponeer. Nadat hy byna vyftig jaar in die buiteland gewoon het, het hy in 1957 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is op 20 Mei 1967 oorlede. Aka fak prof. dr. A.C.Hartman

1937
Die Brandwag verskyn


Met die verskyning van Die Brandwag in 1937 (eers as ‘n tydskrifbylae by die dagblad Die Vaderland en vanaf September 1937 as ‘n selfstandige tydskrif) herleef die strewe van die eerste Afrikaanse weekblad van hoë gehalte in die Noorde wat onder dieselfde naam, van 1910 tot 1922, die eerste pioniersbydraes in die ontwakende jong taal Afrikaans gepubliseer het. Hierdie nuwe Brandwag, begin met mnr. O.E. Schwellnus as redakteur, het spoedig, ook onder die redakteurskap van mnr. A.M. van Schoor, uitgebloei tot een van die twee grootste week tydskrifte in Afrikaans. Dit het bestaan tot September 1965 dit as tydskrif bylae by die Sondagblad Dagbreek en Landstem ingelyf is. aka fak sen A.M. Van Schoor

No comments: