2008/02/18

Februarie 18

Zoeloes se Bloeddorstige Aanval op Boere-Laers
Trekkers Onverhoeds Oorval
Doornkop
Sondag 18 Februarie 1838


‘n Nag van angs en verskrikking is agter die rug na die gruwelike bloedbad toe duisende Zoeloes verlede nag gelyktydig die laers van die Boere langs die Tugela-, die Bloukrans- en Boesmansriviere en hul sytakke aangeval en 40 mans, 56 vroue, 185 kinders en oor die 200 gekleurde bediendes uitgemoor het.

Kindertjies wat teen die wawiele verpletter is, moeders deur tallose asgaai steke vermoor, en afskuwelik-verminkte lyke – sulke tonele is die stomme getuies van die barbaarse wreedheid van die aanvallers.

Aangesien die vyand slegs met die grootste moeite teruggedryf is, en almal verwag dat die Zoeloes terug sal kom, het die Trekkers vandag al hul kragte ingespan om die laers te versterk. Die gewondes en sterwendes moet verpleeg en die dooies begrawe word. Maritz is vandag met vyftig vrywilligers agter die Zoeloes aan om soveel as moontlik van die gesteelde vee terug te neem.

Oor die lot van Retief en sy manskappe heers daar nog onsekerheid. Die ergste word egter gevrees. Allerhande vae gerugte is in die laers in omloop, en een van die Zoeloes het deur middel van ‘n tolk vertel dat almal op Dingaan se folter heuwel, Hloma Amabutha, by Ungungundlovu vermoor is.


1854

Brittanje erken die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat in die hedendaagse Vrystaatprovinsie, Suid-Afrika.


1902
Kmdt. Gideon Scheepers tereggestel

Op die ouderdom van sestien het Gideon Jacobus Scheepers tot die Transvaalse Artillerie in Pretoria toegetree. Vanaf 1894 dus sou hy in militêre kringe beweeg. Hy was skrander, fier, bekwaam en baie gewild. Die manne het hom Die Springbok van die Hoëveld genoem. Scheepers is opgelei as heliograaf deur luit. Paul C. Paff, en sy skoolonderrig het onder maj. Thomas Kroon voortgegaan. Heliografie is ‘n metode van kommunikasie met sonligflitse, en Gideon was spoedig so behendig in die stuur en lees van boodskappe, soms oor groot afstande, dat hy soveel aandag getrek het dat maj. Richard Albrecht van die Vrystaat-Artillerie vir pres. Kruger gevra het of hy Scheepers kan leen om sy jong manne op te lei. Soos John of Johnie (so het almal hom genoem) volwassener geword het en in rang bevorder is, het hy ‘n taamlike groot snor gekweek wat effens vreemd lyk op sy mooi jong gesig. Dit was egter na die militêre tradisie, en hy was pure soldaat, hoewel ook fyngevoelig en soms emosioneel. Hy het hegte vriendskappe gesluit, en sy makkers het hom aanbid, want hoewel streng, was hy altyd bedagsaam, getrou, vol pret en waaghalsigheid. Net voor die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 het hy met die oprigting van heliografiese stasies begin en hom toe by die kommando’s aangesluit. Hy sou een van genl.. De Wet se baasverkenners word en baie sou met hom saamwerk totdat hy met sy eie klein kommando Kaapland binnegeval het. Scheepers se rol in Kaapland was so belangrik dat hy tot kommandant bevorder is. Hy en sy jong kêrels het almal opslaan hoede met wit bande en volstruisveer punte gedra, en hul waaghalsige ondernemings het hulle baie bekend laat raak. Gideon Scheepers het die verbeelding van alle Afrikaners en ook Engelssprekendes begin aangryp. Duisende Engelse soldate het hom agternagesit – sonder welslae. Toe word hy skielik so siek, blykbaar blindedermontsteking, dat hy sy manne verplig het om hom te verlaat en toegelaat het dat die Engelse hom vang. Hulle het hom en Graaff-Reinet toegesluit en na ‘n verspotte verhoor deur ‘n vuurpeloton laat doodskiet. Hy is op so ‘n geheimsinnige wyse begrawe dat sy stoflike oorskot nooit gevind is nie. Gideon Scheepers het ‘n dagboek geskryf waarvan slegs die slotgedeelte nog gevind is. Tog is dit ‘n belangrike menslike dokument, en van nog groter belang is hoe sy loopbaan en tragiese einde die volk aangegryp het. Baie skrywers en digters, van Olive Schreiner tot D.J. Opperman, het in sy verhaal inspirasie geput, sodat Gideon Scheepers deel van ons kultuurbesit geword het. In 1978 is in sy eeufees-geboortejaar ‘n monument tot sy eer buite Graaff-Reinet onthul. Aka fak J.M

No comments: